Twee sterf in Nieu-Seelandse skietery kort voor WB-toernooi

(Foto: Saeed Khan/AFP)

Twee mense is dood en ses gewond toe ʼn gewapende aanvaller Donderdag by ʼn konstruksieterrein in die middestad van Auckland in Nieu-Seeland, losgebrand het. Die skietery was skaars enkele ure voor die openingswedstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue.

Die 24-jarige skieter is ook op die toneel doodgeskiet. Sy naam is nog nie bekend gemaak nie.

Nooddienswerkers het hulle Donderdag net ná 07:00 na Queenstraat gehaas ná berigte dat ʼn man met ʼn haelgeweer op ʼn bouterrein op mense losgebrand het.

(Foto: Lise Aserud/NTB/NTB via AFP)

Volgens Andrew Coster, polisiekommissaris, het die polisie die gewapende man vinnig by ʼn hysbakskag op die terrein opgespoor, waar hy probeer skuil het.

“Hy het op die polisie gevuur en ʼn beampte gewond. Die polisie het teruggevuur en die oortreder doodgeskiet,” sê Coster. “In ʼn tragiese wending het die polisie twee lede van die publiek wat doodgeskiet is op die onderste vlak van die bouperseel aangetref.”

Benewens die gewonde polisiebeampte, het Coster bevestig dat vyf lede van die publiek in die voorval gewond is.

Die polisiebeampte is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

Die motief vir die aanval word ondersoek, maar dit word glo nie regstreeks met die sokkertoernooi verbind nie. Dit is glo ook nie polities of ideologies gedrewe nie.

“Die gewapende man was bekend aan die polisie en het ʼn geskiedenis van gesinsgeweld en geestesgesondheidskwessies gehad. Hy was in huisarres, maar het vrystelling gekry om op die bouperseel te werk. Hy het nie ʼn lisensie gehad om ʼn vuurwapen te besit nie.”

Coster sê daar is “niks wat daarop dui dat die man ʼn hoëvlakrisiko ingehou het nie”.

Volgens Chris Hipkins, die Nieu-Seelandse eerste minister, is daar tans geen nasionale veiligheidsbedreiging nie en die toernooi, wat gesamentlik deur Nieu-Seeland en Australië aangebied word, sal voortgaan soos beplan.

Hy het sy skok en hartseer te kenne gegee oor die voorval. “Die regering het met Fifa-organiseerders vergader en die toernooi sal voortgaan,” het Hipkins bevestig.

“Inwoners en besoekers in Auckland kan gerus wees dat die polisie die bedreiging geneutraliseer het. Daar word ook niemand anders in dié verband gesoek nie. Ons burgers en besoekers se veiligheid is ons eerste prioriteit.”

Hy het ook besoekers by die wedstryde en die algemene publiek gerusgestel dat hulle veilig na die middestad en Eden Park-stadion kan reis vir die Wêreldbeker-openingswedstryd.

(Foto: Lise Aserud/NTB/NTB via AFP)

Sokkerspanne van die VSA, Noorweë en die Filippyne het in hotelle gebly ʼn klipgooi van waar die skietery plaasgevind het. Niemand was egter in die gevaar nie.

Noorweë sal later vandag kragte met Nieu-Seeland se sokkerspan in die Eden Park-stadion in Auckland meet.

Maren Mjelde, kaptein van Noorweë se span, sê die spelers het wakker geword van die geraas van ʼn helikopter en talle noodvoertuie.

“Almal lyk heel kalm en berei soos normaal voor vir vanaand se wedstryd,” het Mjelde gesê.

Massaskietvoorvalle is skaars in Nieu-Seeland en ingrypende wapenwette is ingestel ná die 2019 Christchurch-moskee-slagting waarin 51 Moslem-aanbidders dood en nog 40 gewond is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Charles ·

Ah! Maar dit is nuus omdat dit in Nieu Seeland is. Siende dat dit nie sommer daar gebeur nie. Laat ons nou nie so spog met ons land nie.

Eden ·

Wapenwette maak net seker wetsgehoorsame burgers het nie wapens nie. Die slegte ouens kry altyd wapens in die hande.

Dirk ·

Baie beter daar as hier, as dit kom by ‘n regering wat werk vir die mense

George ·

Dis heelwat groener. Nogsteeds het die SA’ner nog een meer vermoor as die skietery.

Milestone ·

Dis nog steeds groener aan die ander kant. In NZ en elders maak sulke voorvalle nog die nuus want dit is nog uitsonderlik. In SA is dit net nog ‘n statistiek.

Christian ·

Die gemiddelde moorde per jaar in Nieu-Seeland die afgelope 15 jaar is 74 per jaar. Die gemiddelde moorde PER DAG in Suid Afrika is 78 vir die eerste kwartaal die jaar, per dag!! Ek dink dit is dalk bietjie groener aan die ander kant

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.