Tweeling heet Corona en Covid na inperking-geboorte

Foto: Skermskoot/The New Indian Express

ʼn Egpaar van die Indiese staat Chhattisgarh het hul tweeling die name Corona en Covid gegee.

Die tweeling, ʼn seuntjie en ʼn dogtertjie, is op 27 Maart gebore, net dae nadat ʼn 21 dae lange tydperk van afsondering op 24 Maart in Indië begin het.

“Die geboorte het plaasgevind nadat ons talle moeilike gebeure beleef het en ek en my man wou die dag onvergeetlik maak,” het die tweeling se 27-jarige ma, Preeti Verma, aan Press Trust of India gesê.

Volgens die egpaar sal die tweeling se name hul herinner aan die beproewinge wat hul moes deurmaak tydens die afsonderingstydperk.

Die tweeling is met ʼn keisersnee in die lewe gebring en is reeds saam met hulle ma ontslaan.

Die afsonderingstydperk in Indië het gelei tot die opheffing van trein- en lugrederydienste en beteken dat 1,3 miljard mense inderwaarheid tuis moet bly behalwe as hulle noodsaaklike produkte of dienste moet bekom.

Indië het tans net meer as 3 000 bevestigde Covid-19-gevalle en minstens 75 sterftes.

Die aantal gevalle in Indië is min in vergelyking met die VSA, Italië en China, maar kenners meen daar kan binne weke ʼn groot styging in die aantal gevalle wees en dat dit die land se gesondheidsorgstelsel verder onder druk kan plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaco ·

Dis net af, om jou kinders te vernoem na so n hartseer wêreld gebeurtenis. As hierdie virus verby is, sou ek nie daagliks daaraan herhinder wil word deur “pes”-name aan my kinders te gee nie. Siek!!

JC Venter ·

Ek stem saam, net om twee woorde wat jy noem te gebruik, dis soos om jou een kind “Galgehumor” te doop en die ander een “Makaber”.

antieke antie ·

klink my die mense se koppe kap aan…. hoe kan mens jou kinders so straf….dink hulle nie voorentoe hoe die kinders gespot gaan word nie

Steady Eddie ·

Corona beteken “queen” – nie ‘n goeie begin vir een van die twee nie !!!
Ek sê maar niks oor die naam Covid nie !!!

madels ·

Dis baie tragies dat die arme kinders sulke aaklige name gekry het. Ek wonder net as hulle groter is hoe hulle sal voel as hul uitvind dat die name gekoppel is aan so n verskriklike tyd waar so baie mense dood is van die virus. Hierdie ouers moet eintlik ernstig mee gepraat word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.