Vermiste Titan: enkele ure se suurstof oor

OceanGate Expeditions se Titan-tuig

Die soektog na die vermiste Titan-duikboot het ʼn kritieke fase bereik met Amerikaanse en Kanadese kuswagspanne wat alles moontlik doen om die onderwatervaartuig op te spoor.

Die Titan het vermis geraak tydens ʼn ekspedisie na die wrak van die Titanic in die Noord-Atlantiese Oseaan.

Daar is in hierdie stadium slegs enkele ure se suurstof oor vir die vyf insittendes aan boord van die Titan.

Amptenare van die kuswag hou vol hulle is “hoopvol” dat die soektog nie in ʼn tragedie gaan eindig nie en talle kenners en hulpbronne word ingespan om die tuig te probeer opspoor. Sonarstelsels het ongeïdentifiseerde onderwatergeluide opgevang, maar die poging om die passasiers en bemanning lewend op te spoor lyk al hoe moeiliker.

“Soms is jy in ʼn posisie waar jy ʼn moeilike besluit moet neem, maar ons is nog nie daar nie,” sê kapt. Jamie Frederick van die Amerikaanse kuswag. Hy benadruk ook dat dit in hierdie stadium steeds ʼn “soek-en-reddingsoperasie” is.

Organiseerders van die multinasionale soektog – wat Amerikaanse en Kanadese weermagvliegtuie, kuswagskepe en afstandbeheerde robotte insluit – se pogings is gefokus op die Noord-Atlantiese Oseaan waar die onderwatergeluide vroeër waargeneem is.

Hoewel kenners nie die oorsprong van die geluide kan bevestig nie, het dit wel hoop laat opvlam dat diegene aan boord van die tuig nog lewe.

“Om eerlik te wees, ons weet nie wat die geluide is nie, maar ons moet optimisties en hoopvol bly,” sê Frederick.

Die tuig van 6,5 m lank, wat deur OceanGate Expeditions bedryf word, het vroeg Sondag die duiktog na die wrak begin. Minder as twee uur later was daar geen kommunikasie meer met die tuig nie. Dit is sedertdien spoorloos.

Die suurstof aan boord kan teen Donderdagoggend opdroog, nadat daar aanvanklik 96 uur se noodsuurstof aan boord was.

Die Britse miljardêr Hamish Harding en die Pakistanse magnaat Shahzada Dawood en sy seun, Suleman, wat ook Britse burgerskap het, is aan boord.

OceanGate Expeditions vra $250 000 (sowat R4,5 miljoen) vir ʼn sitplek aan boord van die tuig.

Die maatskappy se hoof, Stockton Rush, en ʼn Franse duikboot-operateur, Paul-Henri Nargeolet met die bynaam “Mnr. Titanic”, is ook aan boord.

Skepe en vliegtuie het reeds ongeveer 20 000 km² van die see-oppervlak op soek na die Titan gefynkam.

Nadat die onderwatergeluide opgevang is, is twee afstandbeheerde onderwatervaartuie en ʼn skip met sonarkapasiteit na die spesifieke gebied herlei.

Die soektogte het nog geen positiewe resultate opgelewer nie, maar data van die Kanadese vliegtuig is met kundiges van die Amerikaanse vloot gedeel wat dit akoesties sal ontleed.

Volgens Carl Hartsfield, van die Woods Hole Oceanographic Institution, is daar verskeie verslae van geluide en elkeen daarvan word ontleed. Hartsfield sê die geluide is “beskryf as kapgeluide”.

Volgens Frederick sal die aantal oppervlakvaartuie betrokke by die soektog binnekort van vyf tot tien verdubbel word.

Die vloot het ʼn spesiale wenasstelsel gestuur om swaar voorwerpe van uiterste dieptes op te hys, terwyl personeel en toerusting ook beskikbaar gestel is.

ʼn Diepsee-onderwaterrobot wat deur Frankryk se oseanografiese instituut gestuur is, sou vroeg Woensdagmiddag by die soekspanne aansluit. ʼn Kanadese skip met mediese personeel en ʼn dekompressiekamer was ook onderweg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Treurwilger ·

Die ondertekening van ‘n tipe vrywaringsvorm voor vertrek is heeltemal te verstane hoe meer inligting bekend word oor OceanGate Expeditions en die Titan.
Die stomme mense …

Hendrik ·

As hul nog lewend is kan jy jou net probeer indink die noodtoestand wat in daardie ruimte heers. In nuusberigte word gereeld benadrik die Btitse miljarder asof dit so belangrik is. Omstandighede bevestig maar weer die waardeloosheid van geld.

Bre ·

Vir wat gaan krap hulle waar dit nie jeuk nie. Hoekom die dood gaan trotseer as hulle weet daar is n kans om te sterf en vir wat WIL hulle nou n Titanic graf gaan besoek.

George ·

Elke keer as jy in n kar klim onnodig, krap jy waar dit nie jeuk nie, beteken dit jy doen dit nie? Elke vlug, krap waar dit nie jeuk nie, beteken dit ons moet lugvaart stop?

Johan Tredoux ·

Ek dink tog daar is n verskil in persentasie vir die moontlikheid vir n ramp tussen publieke vervoer en bogenoemde.

Janine ·

Wie klim ooit ‘onnodig’ in ‘n kar? Dis nodig om van punt A tot B te kom, dan nie? Jou redenasie maak glad nie sin nie…

Koen ·

Jy moet begin leef. het jy nog nooit sommer ‘n draai gan ry nie. Roadtrip vir die fun.

Impact ·

Jy het R4.5 miljoen betaal vir ‘n watergraf in so ‘n ekspedisie. Het die moderne tegnologie nie ‘n opsporingstelsel aan boord gehad nie, ek vra maar net

Pigogo ·

Dit moet n verskriklike situasie wees waarin hulle, hulle bevind, my hart gaan uit na hulle. Nou kan hulle baie geld hulle nie eens red nie en is afhanlik van ander om hulle hopelik betyds te kry.

George ·

Weekliks lees ek op MM hoe onsesitief en geen empatie die Suid Afrikaner nasie het. Maar wil he die wereld moet oor SA omgee.

KatjieDeKat ·

George mense voel wel jammer vir hierdie groepie mense. Maar wat jy moet verstaan, in SA word jy sommer in jou eie huis vermoor, sonder dat jy die geringste waalhalsige ding aangevang het. So mense het al afgestomp geraak en het dus n gevoel van “Wel dis n kans wat jy gevat het” oor bv die duikboot mense. Dit Is hartseer maar hulle het n keuse gehad.

Nettie ·

Almal is nie die tipes wat stroperige antwoorde lewer nie. Party is fatalisties, party realisties, party soek die snaakse in als. Dit beteken HOEGENAAMD NIE dat hulle onsensitiewe mense is met geen empatie is nie! Dis maar net ‘n reaksie, nie WIE mense is nie, wat jy hier lees. Een van baie reaksies en emosies wat mense voel, en nie altyd wys of oor praat nie. Ek raak sommer vies as mense ander oordeel op grond van 1 sinnetjie as onsimpatiek!

Sê maar net ·

Kanse is nou nul vir hulle, behalwe vir ‘n bonatuurlike ingryping van God. . Al wat mens nou kan hoop is dat hulle almal gereed was om hul Skepper te ontmoet. Mag die Here hul families versterk.

Martin ·

Ek hoop persoonlik vir ‘n wonderwerk vir die manne, dit is al wat hulle gaan red. Ek het baie tyd op duikbote spandeer en mens dink nooit aan iets wat kan fout gaan nie omdat alles net drills is en elkeen doen net sy werk en jy ken jou uitrusting.

Marthinus W ·

Daar is uiters beperkte materiaal oor duikbote in ons land. Wil jy nie dalk iets daaroor skryf, sodat ons meer weet nie, asb?

KatjieDeKat ·

Dit was die duikbootmense se besluit om af te gaan. En aangesien hulle skatryk is, dink ek eerder hul naasbestaandes gaan dalk rekeninge kry vir die massiewe koste vd search+rescue operasie. Niemand het hul gedwing om die gevaarlike ekspedisie te onderneem nie. Nie die maatskappy nie, Niemand nie.

Boontjie ·

Ja maar daar was wel baie kommentaar oor hoe onveilig die duikboot gebou was, en dit was nie gesertifiseer as veilig volgens Kanadese standaarde nie. Dit moes nooit uitgegaan het in die waters as dit so sleg gebou was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.