Veteraansportjoernalis sterf in Katar

Grant Wahl (Foto: LA Galaxy via Twitter)

Een van Amerika se voorste sokkerverslaggewers is Vrydag dood terwyl hy die kwarteindronde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar uitgesaai het.

Die 48-jarige Grant Wahl het tydens die Argentinië-Nederland-wedstryd in die medialosie by die Lusail-stadion in Doha inmekaargesak. Paramedici is ontbied en het op die toneel KPR op Wahl uitgevoer voordat hy op ’n draagbaar uitgedra is.

Dit word vermoed dat hy ’n hartaanval gehad het nadat hy vroeër die week begin sleg voel het.

“Grant het sokker sy lewenstaak gemaak, en ons is verpletter dat hy en sy briljante skryfwerk nie meer met ons sal wees nie,” het die Amerikaanse Sokkerfederasie intussen in ’n verklaring gesê.

Wahl se vrou, Celine Gounder, ’n bekende epidemioloog en kenner van aansteeklike siektes, het getwiet: “Ek is in algehele skok”.

Grant Wahl (Foto: Twitter)

Wahl het verlede maand vir opslae gesorg toe hy in Katar aangehou is nadat hy ’n reënbooghemp na die openingswedstryd tussen die spanne van Amerika en Wallis gedra het. Dít omdat die dra van die hemp steun toon vir LGBTQ-regte in ’n land waar selfdegeslagverhoudings verbode is.

Wahl het in 1996 by Sports Illustrated, een van Amerika se voorste sporttydskrifte, as sokkerverslaggewer aangesluit. Hy het tot 2020 by die tydskrif gewerk voordat hy ’n jaar later by CBS Sports aangesluit het.

Hy het ook ’n e-posnuusbriefplatform begin en tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi gereeld daarop verslag gedoen.

Wahl het net vroeër vandeesweek in sy nuusbrief vir intekenare geskryf dat hy ’n kliniek by die mediasentrum in Katar besoek het “en hulle het gesê ek het waarskynlik brongitis.

“My liggaam het my uiteindelik in die steek gelaat. Drie weke van min slaap, baie stres en baie werk kan dit aan jou doen … Ek kon voel hoe die boonste deel van my bors ongekende druk en ongemak ervaar,” het hy enkele dae voor sy dood in die nuusbrief geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.