Voormalige Pakistan-premier gewond in ‘sluipmoordpoging’

Imran Khan (Foto: Twitter)

Die voormalige premier van Pakistan, Imran Khan, is in ʼn stabiele toestand nadat hy Donderdag tydens ʼn politieke saamtrek in die been geskiet is.

Pres. Arif Alvi beskryf dit as “ʼn gruwelike sluipmoordpoging”.

Khan lei sedert Vrydag ʼn konvooi van duisende vanaf die stad Lahore na die hoofstad, Islamabad, en beywer hom vir nuwe verkiesings nadat hy in April uit sy amp geskors is.

“Dit was ʼn poging om hom dood te maak, om hom te vermoor,” het sy senior assistent, Raoof Hasan, gesê.

Khan het met ʼn koeëlwond aan sy regterkuit weggekom, terwyl verskeie partybeamptes van sy Pakistanse Tehreek-e-Insaf (PTI) ook moes koes vir skote​.

“Almal wat in die heel voorste ry van die konvooi was, is getref,” het die voormalige minister van inligting, Fawad Chaudhry, gesê.

Hy sê ondersteuners in die skare het probeer om die geweer van die aanvaller af te vat.

“In daardie gestoei het hy sy teiken gemis.”

Ses mense is getref en een ondersteuner is dood, het Chaudhry bevestig.

Marriyum Aurangzeb, minister van inligting, het gesê die aanvaller is in hegtenis geneem, maar sy identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

ʼn Video waarin die aanvaller erken dat hy op Khan geskiet het, doen die ronde op sosiale media.

“Ek het dit gedoen omdat Khan lede van die publiek mislei het. Ek het hom probeer doodmaak, ek het my bes geedoen,” sê die verdagte in die video.

In die video is dit duidelik die man se hande is agter sy rug vasgebind en dit blyk dat hy in ʼn polisiestasie is.

Hy voeg by dat hy kwaad was vir die optog en die speel van musiek tydens die oproep tot gebed wat Moslems vyf keer per dag na die moskee ontbied.

Faisal Sultan, die dokter wat Khan by ʼn Lahore-hospitaal behandel, het bevestig hy is in ʼn stabiele toestand.

Pakistan worstel al dekades lank met Islamitiese militante, en politici word gereeld deur sluipmoordpogings geteiken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Imran is deur die Amerikaners uitgewerk. Hy is ‘n ondersteun van Poetin.

Treurwilger ·

Jip, sal dit enige tyd glo.
En Bob Woolmer se ‘hartaanval’ pas nadat Pakistan uit die WB geboender is, ook vasgemessel in my geheue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.