Wêreld reageer op Israel/Gaza-oorlog

Rook borrel bo ʼn gebou in Gaza (7 Oktober 2023) (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Lande reg oor die wêreld het ʼn rits Palestynse aanvalle veroordeel wat volgens Israel se weermag minstens 200 lewens geëis het.

Sommige lande het versoek dat die konflik sal de-eskaleer ná Israel lugaanvalle en ander weermagoperasies geloods het teen Gaza. Palestynse owerhede het gesê minstens 230 mense is dood.

“Ons is in ʼn oorlog,” het Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu gesê terwyl hy erge weerwraak beloof het ná Hamas se verrassingsaanval.

Hier is ʼn rits reaksies:

VSA

Pres. Joe Biden het gesê Amerika se ondersteuning aan Israel is “standvastig en onwrikbaar”. “Die VSA staan saam met Israel,” het Biden in ʼn regstreekse verklaring by die Withuis gesê. Antony Blinken, Amerika se minister van buitelandse sake, het langs hom gestaan.

“Ons sal nie versuim om hulle te ondersteun nie.”

ʼn Beampte van die Withuis het gesê gesprekke met Israel oor militêre bystand “is reeds aan die gang.”

Iran

ʼn Senior raadgewer aan Iran se leier Ayatollah Ali Khamenei, het ondersteuning uitgespreek vir die Palestynse aanval en dit ʼn “trotse operasie” genoem.

“Ons ondersteun hierdie operasie,” het Yahya Rahim Safavi gesê, aldus die Isna-nuusagentskap.

Safavi het ondersteuning vir die Palestynse militante beloof “tot die bevryding van Palestina en Jerusalem”.

Wetmakers in Iran het Saterdag tydens ʼn parlementêre sessie gedreunsing “Israel moet val”, “Amerika moet val” en “Welkom Palestina”, aldus ʼn video wat deur die Tasnim-nuusagentskap gepubliseer is.

Saoedi-Arabië

“Die koninkryk versoek ʼn onmiddellike opskorting van die eskalering tussen die twee kante, die beskerming van siviele burgers en selfbeheer,” het Saoedi-Arabië se ministerie van buitelandse sake gesê.

“Die koninkryk dink aan sy herhaaldelike waarskuwings van die gevare van ʼn plofbare situasie as gevolg van die voortgesette besetting en ontneming van die Palestynse mense van hul regmatige regte.”

Verenigde Nasies

Volker Turk, VN se hoof van menseregte, het gesê: “Ek versoek ʼn onmiddellike staking van die geweld en doen ʼn beroep op alle kante en sleutellande in die streek om te de-eskaleer om verdere bloedvergieting te voorkom.”

Hy is “baie besorg” oor berigte dat Israeliese siviele burgers gyselaar geneem is deur Hamas.

Europese Unie

Ursula von der Leyen, hoof van die EU, het gesê: “Ek veroordeel die aanval onomwonde deur Hamas-terroriste teen Israel.”

“Dit is terrorisme in sy mees verfoeilike vorm. Israel het die reg om homself teen sulke gruwelike aanvalle te verdedig.”

Josep Borrell, hoof van buitelandse beleid, het gesê “dié verskriklike geweld moet onmiddellik stop”. “Terrorisme en geweld los niks op nie. Die EU benadruk sy solidariteit met Israel in hierdie moeilike tye.”

Hy het ook sy skok uitgespreek oor nuus dat siviele burgers gyselaar geneem is in hul huise of na Gaza. “Dit is teen internasionale wetgewing. Die gyselaars moet onmiddellik vrygelaat word.”

Brandende motors ná ʼn vuurpylaanval uit die Gaza-strook in Ashkelon in die suide van Israel (7 Oktober 2023) (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Brasilië

Brasilië, wat tans die presidentskap van die VN-veiligheidsraad behartig, het die aanvalle op Israel veroordeel.

ʼn Verklaring van die ministerie van buitelandse sake het alle partye gemaan “om maksimum selfbeheersing toe te pas om te voorkom dat die situasie eskaleer”.

Die land het kort daarna gesê hy sal ʼn noodvergadering van die VN-veiligheidsraad byeenroep oor die krisis. Die raad het aangekondig dat hulle Sondag sal vergader.

China

China het gesê hy is “diep besorg” oor die naweek se dramatiese eskalasie van geweld tussen Israel en die Palestyne en alle kante versoek om “kalm” te bly.

“China is baie besorg oor die huidige eskalasie van spanning en geweld tussen Palestina en Israel,” het die ministerie van buitelandse sake gesê. “Ons versoek alle partye om kalm te bly en selfbeheersing toe te pas, om onmiddellik ʼn skietstilstand in te stel, siviele burgers te beskerm en te voorkom dat die situasie verder versleg.”

Rusland

Rusland se ministerie van buitelandse sake het “ʼn onmiddellike skietstilstand” versoek.

“Ons doen ʼn beroep op Palestina en Israel om dadelik op te hou vuur, om afstand te doen van geweld, om die nodige selfbeheersing te wys en – met die hulp van die internasionale gemeenskap – ʼn onderhandelingsproses te vestig om ʼn omvattende, langdurige en langverwagte vrede te bewerkstellig,” het woordvoerder Maria Zakharova gesê.

Vuurpyle is op 7 Oktober 2023 van Gaza in die rigting van Israel gevuur (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Oekraïne

Wolodimir Zelenski, wie se land tans ʼn Russiese inval teenstaan, het gesê Israel het ʼn “onweerlegbare reg” om homself te verdedig.

“Terreur is altyd ʼn misdaad, nie net teen een land of spesifieke slagoffers nie, maar teen die mensdom as ʼn geheel.”

Turkye

Die Turkse president Recep Tayyip Erdogan het Israel en die Palestyne gemaan om verdere eskalasie te voorkom.

“Ons nooi alle partye uit om redelik op te tree en weg te bly van impulsiewe optrede wat die spanning kan verhoog,” het Erdogan, wat die Palestyne ondersteun, gesê.

Frankryk

Frankryk het “volle solidariteit met Israel en die slagoffers” uitgespreek en sy “absolute verwerping van terreur en toewyding tot Israel se veiligheid” benadruk.

President Emmanuel Macron het gesê hy “veroordeel die aanvalle ten sterkste”.

Rook borrel bo Gaza op 7 Oktober 2023 tydens die lugaanval (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Duitsland

Annalena Baerbock, minister van buitelandse sake, het gesê Israel “het ons volle solidariteit” en “die reg, gewaarborg deur internasionale wetgewing, om homself teen terreur te verdedig”.

Brittanje

Die Britse eerste minister Rishi Sunak het gesê hy is “geskok” oor die aanvalle.

“Israel het ʼn absolute reg om homself te verdedig,” het hy gesê. Hy het later ʼn plasing op X (Twitter) gemaak: “Soos wat die barbarisme van vandag se gruweldade duideliker geword het, staan ons onwrikbaar saam met Israel. Die aanval deur Hamas is lafhartig.”

Japan

Japan veroordeel die oorgrens aanvalle “ten sterkste”, het Yoko Kamikawa, minister van buitelandse sake, gesê.

Sy het ook die ontvoering van ʼn getal Israeliese burgers veroordeel.

“Intussen is ons baie besorg oor die groot getal slagoffers in die Gaza-strook as gevolg van die aanvalle deur die Israeliese weermag. Japan versoek opnuut dat die partye uiterste selfbeheersing sal toepas om verdere skade te voorkom.”

Suid-Afrika

Suid-Afrika se ministerie van buitelandse sake het sy “ernstige kommer” uitgespreek oor die “onlangse verwoestende eskalasie in die Israel-Palestina-konflik”. “Die streek benodig desperaat ʼn geloofwaardige vredesproses wat voldoen aan die rits vorige VN-resolusies vir ʼn tweestaat-oplossing en ʼn regverdige en omvattende vrede tussen Israel en Palestina.”

Emma Powell, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, het intussen Hamas se aanval veroordeel.

Die DA versoek Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking om onweerlegbaar die aanval te veroordeel en by die internasionale gemeenskap aan te sluit in hul versoeke vir ʼn onmiddellike einde aan die vinnig eskalerende geweld.

Kenneth Meshoe, president van die ACDP, het ook sy skok uitgespreek oor die aanvalle deur Hamas op Israel. “Die ACDP veroordeel uit die ongevraagde aanvalle ten sterkste. Israel het die reg om homself te verdedig en moet alles in sy vermoë doen om homself te verdedig en sy burgers teen sulke willekeurige en gewelddadige aanvalle te beskerm.”

Meshoe is ook besorg oor die berigte dat Israeliese burgers gyselaar geneem is deur Hamas.

“Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrikaanse en wêreldleiers om die aanvalle te veroordeel en te eis dat die Israeliese gyselaars dadelik vrygelaat word. Ons doen ook ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om te bid vir die onskuldige slagoffers en hul families en om te bid vir die vrede van Jerusalem.”

Indië

Die Indiese eerste minister Narendra Modi het gesê sy land staan “in solidariteit met Israel in hierdie moeilike uur”. “Ek is diep geskok oor die nuus van terreuraanvalle in Israel,” het Modi gesê.

Venezuela

Venezuela se regering het ook “diep besorgdheid” uitgespreek oor die konflik.

In ʼn verklaring op X (Twitter) het die regering gesê die konflik is “die gevolg van die onmoontlikheid van die Palestynse mense om binne multilaterale internasionale wet ʼn ruimte te vind om hul historiese reg uit te oefen”.

Jemen

In Jemen het Houthi-rebelle, wat die hoofstad Sanaa beheer, hul ondersteuning uitgespreek vir “die heldhaftige djihad-operasie”.

In ʼn verklaring op die webwerf van die Houthi-beheerde Saba-nuusagentskap, het die militante groep gesê die aanval het “die swakheid, broosheid en magteloosheid” van Israel onthul.

Die groep het bygevoeg die operasie is “ʼn stryd om waardigheid, trots en verdediging”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Martie Smartie ·

Funny, Rusland het ‘n mondvol terwyl hulself menseregte skend en voortgaan met oorlg. En Indië ondersteun Israel? BRICS behoort mos pro-Palestina te wees.

Harley Davidson ·

Suid-Afrika sal soos gewoonlik die verkeerde groep ondersteun. Die Palestyne het hulle hand oorspeel en gaan hart terug geslaan word, my steun gaan 100% vir Israel.

ES ·

Hoe skynheilig is Rusland nie net nie? Hulle vra vir vreedsame gesprekke tussen die twee partye maar is self besig om ‘n ander land in te val en baie onskuldige mense is al dood.

Impact ·

Rusland, wie is julle om enige eise te maak….julle pleeg self oorlogsmisdade!!! SA is weereens aan die verkeerde kant van die draad, tipies!!! Sterkte aan almal in Israel, julle Weermag is nie professionele mense nie dit is gewone landsburgers wat opgeroep word van Ouma/Oupa tot kinders word opgeroep.

donsie ·

Isreal is onder die top 14 lande met die sterkste weermag, so Hamas moet maar 2 keer dink voordat hulle verder wil baklei

andre ·

Ek wonder of die VSA nog genoeg geld het om n oorlog met China te begin ,lyk my die Biden regering kan nie al die vure doodmaak wat hy begin het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.