Wêreld reg om koningin Elizabeth II te groet

Duisende mense, onder wie talle wêreldleiers, sal konigin Elizabeth II se begrafnis bywoon. (Foto: Marco Bertorello/AFP) BERTORELLO / AFP)

Koningin Elizabeth II word vandag begrawe tydens ʼn staatsbegrafnis wat bygewoon sal word deur talle wêreldleiers. Ná die diens in die Westminster-abdy volg ook die laaste seremoniële reis van die stoet deur Londen se volgepakte strate.

Die langsdienende monarg in Britse geskiedenis is in die ouderdom van 96 in haar huis in Balmoral in Skotland dood nadat haar gesondheid die afgelope jaar versleg het.

Die laaste staatsbegrafnis wat in Brittanje gehou is, was in 1965 vir die land se destydse eerste minister, Winston Churchill.

In die ses dekades wat daarop gevolg het, het die Britse invloed wêreldwyd afgeneem en dié land se plek in ʼn moderne wêreld het al hoe meer onseker geword. Die land sal egter steeds diep delf in sy eeue van tradisie om die enigste monarg wat die meeste Britte ooit geken het, te vereer.

Duisende lede van die publiek kampeer al dae lank in die strate van Londen om ʼn blik van die begrafnis te kry en hul laaste eer te betoon.

Ná die begrafnis sal die koningin se kis, met die Britse vlag daaroor gedrapeer en die kroon daarop geplaas, na Windsor-kasteel geneem word.

Die kis van prins Philip, wat verlede jaar in die ouderdom van 99 dood is, sal verskuif word om ʼn laaste rusplek langs die koningin te kry.

Afgevaardigdes

Die begrafnis word bestempel as die grootste polisie-operasie in Britse geskiedenis. (Foto: Paul Ellis/AFP)

Elizabeth se begrafnis verskil beduidend van dié van Philip by die St. George-kapel by die Windsor-kasteel verlede jaar. Toe het koronavirusbeperkings roubeklaers tot net 30 beperk. Hulle is gelei deur die koningin, ʼn eensame figuur geklee in swart.

Maandag sal meer as 2 000 mense, onder wie staatshoofde soos pres. Joe Biden en Japan se keiser Naruhito, die diens in die Westminster-abdy bywoon. Die indrukwekkende abdy is al vir meer as ʼn 1 000 jaar die plek waar kroningsgeleenthede, troues en begrafnisse van koninklikes gehou word.

Die koningin se oudste seun, koning Charles III, sal roubeklaers saam met sy drie sibbe en sy troonopvolger, prins William, lei.

Verlede Sondag het Charles gesê hy en sy vrou, koningin-gemalin Camilla, is diep geraak deur die boodskappe van medelye en ondersteuning.

“Terwyl ons almal voorberei om ons laaste afskeid te neem, wil ek die geleentheid gebruik om dankie te sê,” het hy gesê.

Die koningin se dood het ook twee van die koninklike familie se mees omstrede lede, die koningin se tweede seun, prins Andrew, en Charles se jongste seun, prins Harry, tydelik terug in die koninklike boesem gebring.

Liz Truss, wat die koningin net twee dae voor haar dood as 15de Britse eerste minister tydens haar 70 jaar op die troon ontmoet het, sal ook in die abdy wees, asook Truss se voorgangers. Verteenwoordigers van die 14 Statebondlande buite Brittanje, waar Charles ook die staatshoof is, sal ook die diens bywoon.

Of hulle konstitusionele monargieë gaan bly of republieke gaan word, sal ʼn belangrike kenmerk van Charles se heerskappy word.

Laaste plig

Wêreld is daar die afgelope week hulde aan Brittanje se langsdienende monarg gebring. (Foto: Carsten Koall/dpa/AFP)

Die koningin se dood het diepe besinning gebring oor die Brittanje oor wie sy geheers het, haar nalatenskap, die huidige stand van sake en wat die toekoms mag inhou. Dit het ook opnuut die kollig laat val op die waarde van lewenslange diens en die plig wat die koningin in haar 70 jaar op die troon uitgeleef het.

“Sy was die gom wat die land aanmekaar gehou het,” het Andy Sanderson, ʼn 46-jarige supermarkbestuurder, gesê. Sanderson was een van laaste lede van die publiek wat sy eer kon betoon terwyl die koningin in staatsie gelê het.

Sowat 6 000 weermaglede is opgeroep om deel te neem aan die somber optog na en van die abdy, op die roete na Windsor en die ter aardebestelling in die St. George-katedraal.

Brittanje se mees senior weermagoffisier, Tony Radakin, het dit as “ons laaste diens aan haar majesteit die koningin” bestempel en die eerste diens wat aan Charles, die nuwe koning, gelewer word.

Die diens in die abdy, die grootste veiligheidsoperasie in Britse geskiedenis, begin om 12:00 (plaaslike tyd).

Ná sowat ʼn uur sal ʼn beuelblaser die aansinjaal speel. Dit word gevolg deur twee minute van stilte en dan die volkslied, “God Save the King”.

Die voormalige aartsbiskop van York, John Sentamu, sê die koningin wou nie ʼn vervelige begrafnis hê nie.

Big Ben beier

Ná die diens sal Charles en ander senior koninklikes tussen die skare deur stap na ʼn wagtende lykswa en die finale rit na Windsor.

Die bekende Big Ben sal deurgaans beier en skote sal elke minuut afgevuur word.

ʼn Reusetelevisiegehoor sal wêreldwyd inskakel vir die begrafnis wat regstreeks uitgesaai word, ʼn teken van die voortgesette bewondering vir ʼn vrou wat eens beskryf is as die “laaste wêreldwye monarg”.

By Windsor sal haar kroon, ryksappel (orb) en staf verwyder word en op die altaar geplaas word.

Die meeste senior amptenaar van die koninklike huishouding, die lord chamberlain,  sal dan simbolies sy ampstaf breek en op die kis plaas. Die kis, met lood uitgevoer en gedrapeer in die koningin se kleure, word dan in die koninklike grafkelder laat sak terwyl ʼn enkele doedelsakspeler ʼn klaaglied speel.

ʼn Private grafleggingseremonie volg daarna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eiervrug ·

Dis jammer Oom Cyril gaan dit misloop, maar hy moet ongelukkig kragbokse aanmekaar swys in Suid Afrika…

Lourens ·

Hulle kan bly wees. As hy daar was, sou daar beslis iets skeefloop.

Piet 6 ·

President Cyril Ramaphosa woon nog steeds die begrafnis by, hy gaan net nie meer weer Amerika toe nie.

Koen ·

Kry julle nie skaam omdat julle so min weet nie. Slaan voortdurend jul naam met ‘n plank

Katinka ·

Dis al wat ‘n men’s lees en sien, dit raak nou net belaglik, gee my eerder ‘n huisgenoot.

Annelize ·

Ongelukkig gaan jy daar ook ‘n bloutjie loop hierdie week, Huisgenoot het tot ‘n bere bylae die week.

Dis ‘n “once in a lifetime” wereld gebeurtenis die, en kan beslis nie binne ‘n dag of twee afgehandel wees en die wereld gaan aan asof sy nooit bestaan het nie.

Hugo ·

Net jammer ons in Suid-Afrika kon nie volg as gevolg van Eskom en die krag krisis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.