Wêreld se grootste aktiewe vulkaan begin uitbars

(Foto: USGS)

Die wêreld se grootste aktiewe vulkaan het Maandag vir die eerste keer in 40 jaar uitgebars.

Die vulkaan Mauna Loa in Hawaii het lawa en warm as uitgespoeg. Volgens die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname (USGS) bou die druk al vir jare op en kon die jongste uitbarsting tot so ver as die dorp Kona, die weskus van Hawaii se hoofeiland 72 km verder, gesien word.

Die uitbarsting het aanvanklik in die groot krater aan die bokant van die vulkaan begin, maar lawa het later uit krake in die sy begin stroom.

Die USGS het gesê daar is tans geen bedreiging vir mense nie, maar wel gewaarsku dat die vulkaan wisselvallig is met lawa wat enige tyd op ander plekke kan begin uitvloei. Daar is ook die moontlikheid dat vulkaniese gas en as deur die wind versprei kan word.

Die owerhede in Hawaii het nog geen ontruimingsbevele uitgereik nie, hoewel die gebied om die kruin en verskeie paaie in die streek gesluit is.

Die vulkanoloog Robin George Andrews sê die feit dat die vulkaan nie sedert 1984 uitgebars het nie – die langste uitbarstingspouse in sy opgetekende geskiedenis – is rede om dit noukeurig dop te hou.

Andrews is van mening dat indien die lawavloeitempo nie dramaties vermeerder nie, dit geen gevaar inhou vir die stad Hilo waar sowat 44 000 mense woon nie.

Mauna Loa is volgens volume die grootste vulkaan op aarde. Die naam beteken “lang berg” en die vulkaan beslaan die helfte van Hawaii se Groot Eiland en is groter as die res van die eilande saam. Mauna Loa is een van ses aktiewe vulkane op die eilande van Hawaii en het sedert 1843 al 33 keer uitgebars.

Die mees onlangse uitbarsting was in 1984 en het 22 dae lank geduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

Ek wonder hoe verander dit nou “aardverwarming” en wie betaal vir sy “koolstof voetspoor”?

Republikein in die Wes Kaap ·

En so gaan dit al aan vir miljarde jare.

De Villiers ·

Een vulkaan laat soveel C02 gasse in een jaar los as wat mense in ‘n generasie doen.

Wakkerslaper ·

“However, human contributions to the carbon cycle are more than 100 times those from all the volcanoes in the world – combined” (bron: climate.nasa.gov)

Miskruier ·

Vergeet van klimaatverandering, kyk na aarde besoedeling.

Wakkerslaper ·

“However, human contributions to the carbon cycle are more than 100 times those from all the volcanoes in the world – combined” (bron: climate.nasa.gov)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.