Wêreldvoedselpryse bereik rekordhoogtes in 2022

(Foto: Maroela Media)

Hoewel wêreldvoedselpryse in Desember 2022 vir die negende agtereenvolgende maand gedaal het, het dit steeds vir die volle jaar ’n rekordhoogte bereik, het data van die Verenigde Nasies (VN) Vrydag getoon.

Voedselpryse het in Maart verlede jaar tot ’n maandelikse hoogtepunt gestyg nadat Rusland Oekraïne – wat ’n groot verskaffer van koring en kookolie aan die wêreld is – binnegeval het.

Pryse het daarna weer gedaal nadat ’n Russiese vlootblokkade wat die uitvoer van Oekraïense graan verhoed het, in Julie opgehef is ná ’n ooreenkoms wat deur Turkye en die VN bemiddel is.

Die Voedsel-en-landbou-organisasie het Vrydag gesê sy prysindeks, wat die maandelikse verandering in internasionale pryse van voedselkommoditeite in die kosmandjie volg, het in Desember tot 132,4 punte gedaal – ’n daling van 1,9% sedert November.

Dit was ook 1% laer as in Desember 2021.

Maar die indeks was algeheel 14,3% hoër in 2022 vergeleke met die vorige jaar, aangesien dit ’n hoogtepunt van 143,7 punte bereik het.

“Laer pryse vir voedselkommoditeite is welkom ná twee baie wisselvallige jare,” het Maximo Torero, hoofekonoom by die Voedsel-en-landbou-organisasie, gesê.

“Dit is belangrik om waaksaam te bly en op die versagting van wêreldwye voedselonsekerheid te fokus, aangesien wêreldvoedselpryse op hoë vlakke bly.”

Torero sê die prys van stapelvoedsel nader steeds rekordhoogtes, met veral dié van rys wat styg.

“Daar is nog baie risiko’s verbonde aan toekomstige voorraad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.