Werkers selde beter daaraan toe ná stakings

Dit is onwaarskynlik dat onredelike lae lone die bron van die arbeidsonrus in die mynbousektor is, het die vakbond Solidariteit vandag tydens die vrystelling van sy kwartaallikse Arbeidsmarkrapport gesê. Die stakings by Impala, Lonmin, Amplats, GoldFields, Harmony en AngloGold Ashanti, wat ook na die steenkoolmyn-, ysterertsmyn- en chroombedryf versprei het, is eerder as gevolg van die plaaslike arbeidsverhoudingestelsel wat sake tot ’n uitbarsting laat kom het.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se kwartaallikse Arbeidsmarkrapport lewer kommentaar op uitgesoekte faktore wat in die afgelope drie maande ’n betekenisvolle impak op die arbeidsmark gehad het. Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die SNI, sê die meerderheidskarakter van die Wet op Arbeidsverhoudinge is een van die faktore wat die stakingsgolf in die platinumbedryf veroorsaak het. “Dit is in wese ’n ondemokratiese wenner-vat-alles-stelsel. Dit gee aan die meerderheidsvakbond die reg om namens alle werknemers met die maatskappy te onderhandel en bindende ooreenkomste aan te gaan. In die proses is minderheidsvakbonde uitgesluit en is die magsposisie van groot vakbonde verskans teen kleiner vakbonde en nuwe toetreders tot die vakbondwese.”

Le Roux sê daar klink tans steun uit verskeie oorde op dat herbesin moet word oor die loonbedingingsproses in die platinumbedryf en by implikasie ook in ander bedrywe. “In beginsel is daar nie ’n probleem met ’n proses van sentrale bedinging nie, solank dit nie in wese slegs op die bestaande ‘wenner-vat-alles’-stelsel berus nie. Indien ’n ooreenkoms bereik kan word ingevolge waarvan die huidige arbeidsonrus op volhoubare wyse opgelos word deur sekere sake op sentrale bedingingsforums te hanteer, sal dit een van die min positiewe verwikkelinge uit die afgelope maande se stormagtige tye wees. Sentrale bedinging moet ook nie rigied en statutêr wees nie, maar eerder op grond van vrywillige deelname plaasvind. In enige poging om die heersende arbeidsonrus op te los, moet daar genoegsame uitlaatkleppe binne arbeidsverhoudinge wees – meer spesifiek: ruimte vir minderheidsvakbonde en geen spesiale behandeling vir meerderheidsvakbonde nie.”

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, sê hoewel vreedsame en ordelike stakings tydens loononderhandelings ’n legitieme laaste uitweg vir werkers en vakbonde is, moet werknemers egter altyd oorweeg of hulle wel beter daaraan toe gaan wees na afloop van die staking. “Daar word algemeen voorgehou dat indien ’n staking op ’n 10%-loonverhoging uitloop, dit beteken dat solank daar vir minder as ongeveer 25 werksdae gestaak is, die staking lonend was. Hierdie benadering is egter verkeerd. Die werklike lonendheid van die staking moet, om net een faktor te noem, aan die verskil tussen die verhoging wat aangebied is en die verhoging wat ná afloop van die staking verkry is, gemeet word. Indien die werkgewer voor die staking ’n verhoging van 9% aangebied het, en ná die staking word ’n verhoging van 10% gegee, is dit slegs die 1%-verskil wat aan die staking toegeskryf kan word. Dus neem dit ’n werknemer wat vir 25 werksdae gestaak het ten einde ’n 10%-verhoging eerder as ’n 9%-verhoging te kry, sowat 11 jaar om werklik voordeel daaruit te trek dat hy gestaak het.”

In die derde Arbeidsmarkrapport van 2012 word daar ook verwys na die ongelyke speelveld in die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf en absolute uitsluiting in die werkplek weens rassediskriminasie. Kliek hier om die volledige Arbeidsmarkrapport af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae