Du Plessis klim weer in UFC-hok

Dricus du Plessis vier sy oorwinning nadat hy vir Trevin Giles in Las Vegas uitgeslaan het (Foto: UFC/Twitter)

Dricus du Plessis se pad na sy derde geveg in die Ultimate Fighting Championship (UFC) was gewis nie ’n maklike een nie.

’n Operasie, ’n beseerde teenstander wat kop uittrek en ’n ander wat dalk net nie kans gesien het om saam met die vurige Suid-Afrikaner in die hok te klim nie, was van die hindernisse langs die pad.

Maar nou kan hy sy kleim hierdie naweek teen die ervare Brad Tavares in UFC276 in Las Vegas afsteek.

En dit is nie sommer so ’n hierjy affêre nie: Met Israel Adesanya en Jared Cannonier as die aand se groot trekpleister sal daar beslis ’n paar UFC-grootkoppe in die arena wees. ’n Goeie vertoning hier en Du Plessis se roete na moontlike titelglorie word dalk net ’n rapsie korter.

Ondanks al die terugslae is hy beslis gereed vir aksie – hy laai immers gereeld foto’s van sy voorbereidingswerk op sosiale media en hy is nie iemand wat vir harde werk skrik nie.

“As ’n kind wat in Suid-Afrika grootgeword het, is die plaas ’n onlosmaaklike deel van my lewe. My pa, broers en hele familie kom uit dié agtergrond. Goeie werketiek is deel van wie ek is; jy moet bereid wees om hard te werk vir dit wat jy wil hê,” het hy in ’n onderhoud met ESPN gesê.

Die gemengdegevegskuns-ster is tot dusver onoorwonne in sy UFC-loopbaan nadat hy vroeër met Markus Perez en Trevin Giles klaargespeel het.

“As jy nie honger vir sukses is nie en nie bereid is om hard te werk nie, sal jy altyd tweede wees. En niemand weet wie die naasbeste is nie.”

Dricus “Stillknocks” du Plessis het al twee sy UFC-gevegte gewen. Foto: Twitter.

Voordat Du Plessis as ’n gemengdegevegskunsatleet in die hok geklim het, was hy ’n baie suksesvolle skopbokser. Hy was onoorwonne in 33 gevegte; boonop het hy 30 keer sy teenstander uitgeslaan. Dit was in dié tydperk toe sy broer met sy slaappil-bynaam “Stillknocks” (’n verwysing na die slaapmiddel Stilnox) vorendag gekom het.

En volgens die Nederlandse skopbokser en gerekende afrigter, Henri Hooft, word die Suid-Afrikaner net beter soos wat sy loopbaan vorder.

“Hy het meer as genoeg krag – hy hoef jou eintlik net een keer goed te tref. Normaalweg is iemand óf ’n atleet óf ’n vegter. Dricus beskik oor al twee eienskappe,” het Hooft aan ESPN gesê.

  • Wees Sondagoggend van 02:00 gereed vir Du Plessis se geveg. Die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snuffelgids ·

Dricus, boerseun, jy maak ons trots! Ek weet hoe hard jy werk, sulke harde werk sal beslis sukses oplewer. Ek sien uit na die geveg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.