Du Plessis oorgehaal vir nog uitklophoue

 

Dricus du Plessis op die voorvoet. Foto: Carmen Mandato/Getty Images/AFP.

Dricus “Stillknocks” du Plessis maak weer litte los vir ʼn geveg in die Ultimate Fighting Championship-hok.

Volgens ESPN het die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskunsster en Darren Till mondelings ingestem om by UFC282 appels in Las Vegas te swaai.

Till, ʼn 29-jarige Engelsman, sukkel met beserings en hy het in vier van sy laaste vyf gevegte die onderspit gedelf. Tog verkeer hy onder die (wan)indruk dat sy loopbaan weer rigting teen Du Plessis sal kry.

“Ek dink hy is ʼn taai kalant,” het die Liverpool-boorling gesê. “Maar ek wil hom bitter graag ore aansit.”

Du Plessis sal egter allesbehalwe kanonvoer wees. Hy is onoorwonne ná drie UFC-gevegte en hy het in sy jongste uitstappie teen Brad Tavares gewys dat hy gereed is vir enige uitdaging.

Nadat hy sy eerste twee teenstanders binne ʼn japtrap uitgeslaan het, het hy staande teen die ervare Tavares gebly om met die louere weg te stap.

Hy is duidelik ook oorgehaal om sy stempel teen Till af te druk.

“Ek is ʼn man op ʼn sending na groter hoogtes en niks sal in my pad staan nie. Wag en kyk wat gebeur as jy my nie glo nie,” het Du Plessis op sosiale media gesê.

Die inskrywing is met selfversekerde hutsetikette (soos #UCF282 en #top10imcomingforyou) afgesluit.

Volgens UFC se amptelike webwerf tel die 28-jarige Suid-Afrikaner tans onder die voorste 15 atlete in sy gewigskategorie.

ʼn Goeie vertoning teen Till sal beslis sy ranglysdrome ʼn hupstoot gee.

“Ek is baie tevrede met my posisie op die ranglys, maar ek sal eers behoorlik feesvier wanneer ek die kampioen is.”

En daardie dag kruip skynbaar al nader vir Dricus du Plessis.

  • UFC282 vind op 10 Desember in Las Vegas plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gpsa ·

Wel gedaan Dricus. Alle sterkte met die geveg. Waardeer steeds hoe jy uitgespreek het teen plaas moorde in SA na ‘n vorige geveg.

vuurvliegie ·

Hy het ook my stem en ondersteuning. Vervang daai vlag met ‘n “Stop Plaasmoord” vlag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.