Foutlose Djokovic het sy oog op 10de titel

Novak Djokovic het sy oog op nog ’n titel in Melbourne. Foto: Patrick Hamilton/Belga via AFP.

Foutloos.

Dit is dalk die beste woord om Novak Djokovic se vertoning in die kwarteindstryd van die Australiese Ope teen Andrey Rublev te beskryf.

Die Serwiese ster het binne ʼn oogwink die wedstryd met 6-1, 6-2 en 6-4 gewen om vir sy tiende halfeindstryd in Melbourne te kwalifiseer.

Laat ons nie doekies omdraai nie – Rublev was eintlik magteloos teen die voormalige wêreldnommereenspeler se aanslag. En ons praat hier van ʼn speler wat die sesde plek op die ATP-ranglys beklee.

Hoewel winderige toestande houespel effens bemoeilik het, het Djokovic steeds 14 kishoue afgevuur en sy teenstander soos ʼn vlakhaas op die baan rondgejaag.

Tog was hy vol lof vir Rublev gewees.

“In die geheel glo ek nie dat die eerste twee stelle ʼn getroue weerspieëling van die wedstryd was nie. Daar was ʼn paar naelbytoomblikke en Andrey is ʼn baie talentvolle speler. Veral sy voorhandspel en spoed oor die baan maak van hom ʼn baie gevaarlike teenstander,” het Djokovic gesê.

Die Serwiër het vroeër aangevoer dat sy vierderondewedstryd teen Alex de Minaur sy beste vertoning in ʼn lang tyd was.

“Ek sou sê dat my vertoning in hierdie wedstryd kort op die hakke van die De Minaur-kragmeting volg. Ek is mal daaroor om op hierdie baan te speel. Ja, ʼn mens moes by die winderige toestande aanpas, maar ek was op my beste in die belangrike oomblikke van die wedstryd en dit maak my baie trots.”

Hy sal volgende teen die VSA se Tommy Paul te staan kom – ʼn speler wat vir sy eerste Grand Slam-halfeindstryd gekwalifiseer het.

“Tommy het nie veel om te verloor nie. Ek onthou toe ek in my eerste groot halfeindstryd in aksie was; ʼn mens speel met baie vryheid. Maar as ek speel soos wat ek in die afgelope twee wedstryde gespeel het, het ek ʼn goeie kans om na die eindstryd deur te dring.”

Ja-nee, Novak Djokovic verloor nie sommer ʼn tenniswedstryd in Australië nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Hy het meer gesondheids probleme as enige huidiglike speler. Hy recover net miraculously elke keer na hy die baan verlaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.