Rafa nog onoorwonne in 2022

Rafael Nadal het sy 11de agtereenvolgende ATP-oorwinning van die seisoen in Mexiko behaal. Foto: Pedro Pardo/AFP.

Spaans het sy taalwortels in Latyn; dus sal Rafael Nadal waarskynlik weet waarvan daar gepraat word as hy iewers veni, vidi, vici raaklees – ek het gekom, gesien en oorwin.

Want die 35-jarige Spanjaard is deesdae so te sê onstuitbaar op die wêreldtennisverhoog.

Ná sy heldedade in Australië – waar hy eers die Summer Set1-toernooi en toe sy 21ste Grand Slam-titel in Melbourne gewen het – het hy vandag sy segetog in Mexiko voortgesit.

Nadal het Denis Kudla met 6-3 en 6-2 in Acapulca geklop; dit was sy 11de agtereenvolgende oorwinning vanjaar – ’n verstommende vertoning as ’n mens in ag neem dat ’n voetbesering vroeër gedreig het om sy loopbaan kort te knip.

Indien die hotklou-speler sy volgende wedstryd wen, sal dit die beste aanloop tot ’n ATP-seisoen van sy loopbaan wees. Hy het in 2014 ook 11 agtereenvolgende kragmetings gewen, maar Stan Wawrinka het destyds sy segetrein ontspoor.

“Dit was ’n positiewe wedstryd vir my gewees en ek dink ek het ál beter begin speel. Dit is goed vir ’n mens se selfvertroue wanneer jy nie ’n stel afstaan nie,” het Nadal ná vandag se tweestryd gesê.

“Daar is natuurlik ’n hele paar dinge waarop ek kan verbeter, maar ek is tevrede met my vertoning.”

Dan het Daniil Medvedev – die speler wat Novak Djokovic as die wêreldno. 1-speler kan onttroon – sy Mexiko-veldtog met ’n stewige vertoning afgeskop.

Die jong Rus het Benoit Praire met 6-3 en 6-4 geklop.

“’n Mens se eerste wedstryd ná ’n blaaskans is nooit maklik nie. Ek was hoegenaamd nie op my beste nie, maar ek is beïndruk deur die wyse waarop ek tot op die heel einde vir elke punt baklei het,” het Medvedev gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.