Roger, Rafa nie eens beste van eie era – Connors

Novak Djokovic. (Foto: Ibrahim Ezzat/NurPhoto via AFP)

Een van die lekkerste gesprekke rondom ʼn braaivleisvuur is om te bepaal wie die beste tennisspeler nóg is.

Is dit die swierige Roger Federer wat met koninklike prestasies op Wimbledon spog? Of dalk die kleibaanmeester Rafael Nadal met sy rits titels op Roland-Garros?

Nie een van dié twee nie, meen Jimmy Connors.

“Daar is baie mense wat kliphard musiek op Federer en Nadal se lawaaiwaens maak. Na my mening is hulle nie eens die beste spelers van hul eie era nie,” het die voormalige wêreldno. 1-speler in sy Advantage Connors-podsending gesê.

Die 70-jarige Amerikaner meen dat Novak Djokovic die titel verdien as die beste tennisspeler nóg.

Ja, die Serwiër het teen die veel jonger Carlos Alcaraz in ʼn titaniese Wimbledon-eindstryd verloor, maar vóór daardie wedstryd het hy reeds vanjaar twee Grand Slam-titels (in Australië en Frankryk) ingeoes.

Glad nie sleg vir ʼn 36-jarige speler nie.

Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.)

Volgens Connors is daar ondersteuners wat meen dat Djokovic sy tennisvervaldatum bereik het. Dit is immers hoogtyd dat iemand anders – soos Alcaraz – die tennissepter begin swaai.

“Ek stem nie daarmee saam nie. Ek sou vir hom sê dat hy moet aanhou speel totdat iemand hom baie oortuigend klop; totdat so iets gebeur staan hy altyd ʼn uitstekende kans om ʼn wedstryd te wen.”

Die wenner van agt Grand Slam-titels glo dat die Serwiër nog goed genoeg is om vir ʼn paar jaar aan te hou speel.

“Iemand het op Twitter ʼn foto van ʼn 50-jarige Novak Djokovic gedeel waarin hy steeds besig is om ʼn wennerstoespraak op Wimbledon se hoofbaan te gee. Ek was mal daaroor.”

Die bekende tennisafrigter Patrick Mouratoglou stem heelhartig met Connors saam.

“Selfs al het hy ’n paar toernooie misgeloop, sal hy waarskynlik eendag as die grootste speler nóg bekendstaan. Novak Djokovic is iemand wat al vir die afgelope 15 jaar Grand Slam-toernooie wen.”

Mouratoglou meen dat Alcaraz beslis die tennisleisels by die Serwiese ster sal oorneem.

“Ek verstaan waarom mense opgewonde raak oor Carlos se spel. Hy kan ʼn bal baie hard slaan terwyl hy ook oor ongelooflike plofkrag beskik. Maar is hy al bó Novak? Nog nie heeltemal nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert ·

Trots op hom wat woeker met sy God gegewe talent. Hy het selfs onder druk nie sy knieg gebuig vir n wereldsisteem wat hom wou beheer nie. Hy sal nog baie ver kom in sy loopbaan.

Jakkie ·

Rafa en Rodger bly steeds bo vir my. Hulle gedrag op die baan vergeleke met Navak wat die paal geslaan het in die Wimbledonfinaal en sy raket in die stadion in gegooi het toe hy ‘n punt verloor by die Olimpiese Spele in Sydney het ek nie by die ander gesien nie.

Michael ·

Indien die standaard waaraan die wereld se beste tennisspeler gemeet word, bepaal sou word deur of hy pale slaan en rakette gooi, dan is daar baie spelers wat die wereld se beste tennisspeler ooit is.

Jakkie ·

Gaan oor ander kon soos kampioene hul emosies beter bestuur en is steeds rolmodelle dmv voorbeeld. Novak se gedrag op die baan skiet ver tekort by Roger en Rafa. Novak moun al meer as Murray……

George ·

Roger sal vir my die beste bly maak nie saak wat nie, net soos in F1 sal Schumacher vir my die beste bly, maak nie saak wat die rekordboek se nie. Daar is vir my meer agter “die beste” as net prestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.