Schumacher kan Mick se loopbaan volg

Michael Schumacher en Jean Todt. Foto: Twitter.

Jean Todt, die voormalige Ferrari-baas en een van Michael Schumacher se beste vriende, het in die Franse media gesê dat die F1-legende sy seun se loopbaan kan volg.

Die 21-jarige Mick Schumacher is goed op koers om die F2-titel te wen, terwyl daar ook ’n moontlikheid is dat hy binnekort deel van die F1-aksie op die groot verhoog kan word.

“Natuurlik volg Michael sy seun se vordering,” het Todt in die Franse media gesê.

Die 51-jarige voormalige Ferrari-renjaer het in 2013 ernstige hoofbeserings ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen.

En al het spesialiste soos Erich Riederer, ’n wêreldbekende neurochirurg, vroeër ’n baie somber prentjie oor Schumacher se gesondheid geskilder, sorg Todt se kort boodskap vir ’n tikkie hoop.

Die Fransman is immers een van die min wat toegelaat word om Schumacher by sy huis in Switserland te besoek.

“Mick gaan waarskynlik volgende jaar in die F1-kompetisie jaag en dit gaan ’n wonderlike uitdaging wees. Ons is baie opgewonde om ’n nuwe Schumacher op die sport se hoogste vlak te sien,” het Todt gesê.

Tog wou hy nie verder oor Schumacher se gesondheid uitbrei nie.

“Ek besoek Michael gereeld – so een of twee keer per maand. En oudergewoonte is my antwoord dieselfde: Hy is steeds besig om die stryd te voer. Ons kan net bid en vertrou dat sy toestand verbeter.”

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Intussen is die jonger Schumacher oorgehaal om sy staal tussen die hardebaarde te wys – hy het juis in ’n vorige onderhoud gesê dat hy Lewis Hamilton se rekord sal wil verbeter. Tog weet hy dat daar nog baie water in die see sal moet loop.

“My langtermyndoelwit is om regmerkies langs al die boksies van ’n suksesvolle en veelsydige renjaer te maak,” het hy gesê.

“Wanneer ek die sprong na die F1-reeks maak, wil ek so voorbereid as moontlik wees. Terselfdertyd dink ek dat ’n mens ook eers ’n bietjie moet sukkel, want dit is in daardie tye wat jy die meeste leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos10 ·

Ek dink die familie is baie selfsugtig. Michael het sy roem en geld deur die algemene publiek gemaak, maar nou hou hulle alle inligting van die mense af wat hulle instaat gestel het om daar bo te wees.
Ons wil nie weet wat hy vir ontbyt gehad het nie, maar teminste of hy mobiel is, kan hy praat, hoor en lees? Is daar kans op volkome herstel? Dis wat ons wil weet.

tweeling ·

Dalk is daar aandele wat waarde kan verloor as die waarheid uitkom oor moontlike pad van geen herstel vorentoe.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Lanklaas van my naamgenoot, Michael, iets gehoor. Ek sal graag meer wil weet hoe hy dit met hom gaan, maar “Hy maak vordering” is beter as niks. En dat hy sy seun se vordering volg is wonderlike nuus. Hopelik sal ons binnekort meer van hom hoor…

Eend Bessinger ·

Na ‘n lang stilte ‘n klein ligpuntjie… Ek het gewonder hoe gaan dit met Michael.

Alta Alleman ·

Hulle plaas net te veel druk op Mick om sy pa se skoene vol te probeer staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.