Uitjouery is ‘belaglik’ – McEnroe

Novak Djokovic is deur na nog ’n Franse Ope-kwarteindstryd. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Novak Djokovic het sy beste vertoning van die Franse Ope in sy jongste wedstryd teen Juan Pablo Varillas opgedis.

Die Serwiër het die kragmeting op ʼn drafstap met 6-3, 6-2 en 6-2 gewen en hy sal nou vir die 17de keer in die kwarteindstryd van die groot kleibaantoernooi in Parys afslaan.

Volgens Djokovic begin hy op die regte tyd vlamvat.

“Dit is perfekte tydsberekening omdat die wedstryde van hier af net moeiliker word. Groter uitdagings wag en as ek kan aanhou speel soos nou, sien ek baie daarna uit,” het hy ná afloop van die Varillas-tweestryd gesê.

Intussen het John McEnroe vir die 36-jarige Serwiese ster in die bres getree nadat hy in sy vorige wedstryd teen Alejandro Davidovich Fokina deur die toeskouers uitgejou is.

Die Franse tennisondersteuners het hul misnoeë te kenne gegee toe Djokovic feesgevier het nadat hy die tweede stel beklink het én toe hy ʼn rukkie later mediese behandeling op die baan ontvang het.

“Waarom doen hulle dit?” het McEnroe vanuit die kommentatorshokkie gevra toe die toeskouers met hul uitjouery begin het.

 (Foto: Ibrahim Ezzat/NurPhoto via AFP)

Volgens die Amerikaner kry alle spelers behandeling op die baan en dit is heeltemal aanvaarbaar. Boonop was Davidovich Fokina terselfdertyd ook koers na die kleedkamers gekies.

“Ek het definitief begrip vir Novak se reaksie. Dit is belaglik – waarom gaan hulle so tekere? Die ander speler is nie eens op die baan nie.

McEnroe meen dat uitjouery Djokovic ook aanvuur om beter te speel.

“Hy moes al vir sy hele loopbaan daarteen (die uitjouery) baklei. Maar op ’n eienaardige manier help dit hom ook want dit dien beslis as inspirasie.”

Uitslae:

Stefanos Tsitsipas klop Sebastian Ofner met 7-5, 6-3 en 6-0

Carlos Alcaraz klop Lorenzo Musetti met 6-3, 6-2 en 6-2

Novak Djokovic klop Juan Pablo Varillas met 6-3, 6-2 en 6-2

Karen Khachanov klop Lorenzo Sonego met 1-6, 6-4, 7-6 en 6-1

Aryna Sabalenka klop Sloane Stephens met 7-6 en 6-4

Elina Svitolina klop Daria Kasatkina met 6-4 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie Smartie ·

Die Franse staan maar agter in die ry wat betref goeie maniere en respek …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.