Uitjouery skeel Max min

Mercedes se George Russell (regs) wens vir Max Verstappen geluk met sy triomf in Monza. Foto: Twitter.

Max Verstappen is Sondag deur toeskouers uitgejou toe die geruite vlag vir hom in Monza geswaai is.

Daniel Ricciardo se McLaren het in die 49ste ronde van die Italiaanse Grand Prix onklaar geraak en F1-base het beslis dat die wedren agter ʼn veiligheidsmotor voltooi moet word.

Nodeloos om te sê was Ferrari-ondersteuners nie té ingenome met die stand van sake nie – Charles Leclerc kon immers nie meer ʼn aanslag laat in die wedren loods nie – en hulle het hul misnoeë luidkeels te kenne gegee.

Tog skeel die uitjouery die jong Nederlandse renjaer nie in die minste nie.

“Wanneer ek uitgejou word, skop almal ʼn bohaai daaroor op. Op die ou einde is ek hier om wedrenne te wen en dit is presies wat ek en my span gedoen het,” het Verstappen gesê.

Snaaks genoeg was Michael Masi, gewese wedrendirekteur, verlede jaar omtrent in die spervuur omdat hy vir ʼn aksiebelaaide einde in Abu Dhabi gesorg het.

“Dit is jammer dat die wedren nie weer hervat is nie, maar ons kan in die geheel baie tevrede met ons vertoning wees.”

Verstappen het Sondag sewende op die wegspringrooster begin en hy het binne ʼn oogwink sy pad na die vierde plek oopgeveg. Ná vyf rondes was hy kort op Leclerc se hakke en hy het uiteindelik net te veel skietgoed gehad.

Dit was sy vyfde oorwinning op ʼn streep en die 11de van die 2022-seisoen. Hy geniet nou ʼn voorsprong van 116 punte bó Leclerc op die jaerspunteleer.

Daar wag nog ses wedrenne op die horison, maar dit is statisties moontlik dat Verstappen reeds voor die einde van die seisoen sy tweede wêreldkampioenskaptitel in die sakkie kan hê.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 335 punte
  2. Charles Leclerc 219 punte
  3. Sergio Perez 210 punte
  4. George Russell 203 punte
  5. Carlos Sainz 187 punte
  6. Lewis Hamilton 168 punte
  7. Lando Norris 88 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 545 punte
  2. Ferrari 406 punte
  3. Mercedes 371 punte
  4. Alpine 125 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wondermaarnet ·

Hy is ‘n goeie renjaer, maar baie arrogant ook vir so ‘n jong man.

Christian ·

Daar is ‘n fyn lyn tussen arrogansie, self vertroue en self trotsheid. Dit gesê, as jy die beste in die wereld is in ‘n sport, wereld kampioen boksers, tennis spelers, golf spelers maak nie saak watter sport nie dan kan jy gerus met ‘n bree bors rond stap en praat met ‘n bietjie meer self vertroue en self trotsheid, dit kan gesien word as arrogansie maar as jy die beste ou of vrou is op die aardbol in ‘n sport dan sê ek jy het dit verdien om so bietjie arrogant te wees. Net my opinie

Lydia ·

Is selfvertroue arrogant? Max het baie groot geword. Ons almal is uniek op ons ons eie manier. Booo pas nie by die sport nie, maar nie saak wie wen nie,

daarsdit ·

Net jammer die FIA staan op as die skare vir Hamilton boo, maar as dit die ander drywers is, is dit normaal

Peter ·

Leclerq sou hom anyway nie ingehaal het nie. “kommin” optrede van die toeskouers. “Look at the scoreboard” .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.