Blitsige Gerda gereed om titel te verdedig

Gerda Steyn het die Twee Oseane-marathon verlede jaar in ’n rekordtyd gewen. (Foto: Twitter. )

Gerda Steyn, Suid-Afrika se goue langasem, is in Kaapstad en gereed om haar Twee Oseane-titel suksesvol te verdedig.

Die 33-jarige atleet het verlede jaar as’t ware met die louere weggehardloop toe sy die marathon in ʼn spogtyd van 3:29:42 gewen het. Sy het sommer ook Frith van der Merwe se rekord van 3:30:36 verbeter; ʼn rekord wat sedert 1989 gestaan het.

Eintlik kan organiseerders maar ʼn veldtog van stapel stuur om een van die Kaapstadse strate na Steyn te vernoem: Sy was in 2018 en in 2019 ook eerste oor die wenstreep.

“Ek gaan my bes doen om met ʼn soortgelyke vertoning vorendag te kom. My voorbereidingswerk het goed verloop en ek is nou selfs meer opgewonde oor die wedloop,” het sy gesê.

Steyn sal in die kleure van Phantane-atletiekklub deelneem en sy hoop om jong en opkomende atlete tot hoër hoogtes te inspireer.

“Dit is vir my opwindend om deel van die klub te wees – sy kleure [groen en goud] staan altyd vir my uit. Hoewel Phantane nie noodwendig baie lede het nie, doen hulle ongelooflike werk en ek is trots om deel van die opset te wees.”

Gerda Steyn en Irvette van Zyl. (Foto: Verskaf.)

Verlede jaar se naaswenner, Irvette van Zyl, sal egter die marathon met ʼn besering misloop. Dit is ʼn terugslag vir atletiekliefhebbers want sy was verlede jaar in ʼn verbete stryd met Steyn gewikkel.

“Dit is vir my hartseer dat Irvette nie kan deelneem nie; ek geniet dit om teen haar te hardloop want dit sorg dat ek op ʼn hoër vlak moet presteer,” het Steyn gesê.

“Tog probeer ek om nie soseer op die ander atlete te fokus nie – ek probeer om altyd my beste te gee. Ek is egter seker dat Irvette sommer gou op die pad sal wees; slaggereed vir volgende jaar se Twee Oseane!”

  • Wegspringtye:

56 km: Saterdag om 05:10

21,1 km: Sondag om 06:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.