Blitsige Simbine een van die goue gunstelinge

Trayvon Bromell en Akani Simbine (regs) gaan sake in die 100 m by die Olimpiese Spele uitspook. Foto: Clement Mahoudeau/AFP.

Akani Simbine het in die aanloop tot die Olimpiese Spele in Tokio net al hoe vinniger geword. Die 27-jarige blits het byvoorbeeld vroeër in Julie die Afrikarekord in die 100 m tot 9,84 sekondes verbeter.

Net Trayvon Bromell van die VSA (9,77 sekondes) het al vanjaar vinniger as Simbine gehardloop. Dit help egter veel as jy vooraf hakskene vir jou teenstanders wys, maar in die Olimpiese eindronde op ’n piesangskil gly.

Die item is immers binne ’n japtrap verby en een klein foutjie kan die einde van jou gouemedaljedrome beteken.

Tog glo Matthew Quinn dat so iets nie met Simbine sal gebeur nie.

Die 45-jarige voormalige naelloper, wat ’n goue medalje by die Wêreldkampioenskap in 2001 ingeoes het, meen dat Suid-Afrika se 100 m-ster ongetwyfeld een van die podiumgunstelinge in Tokio is.

“As Akani ’n tyd van 9,84 sekondes of 9,80 sekondes hardloop, gaan hy die goue medalje wen,” het Quinn voorspel.

Wanneer 100 m-atlete tye nader aan tien sekondes in ’n wedloop hardloop, word dinge meer gelyk, maar ’n blitstyd van minder as 9,90 sekondes kan jou teenstanders wegblaas.

Terselfdertyd glo hy dat Bromell nie bestendig genoeg is om veel van ’n bedreiging vir Simbine te wees nie.

Akani Simbine is vuurwarm op die atletiekbaan. Foto: Tiziana Fabi/AFP.

“Ek dink nie Bromell is te waffers nie. Hy hardloop óf 9,80 sekondes óf tien sekondes, maar nooit juis iets tussenin nie.

“Een van Akani se sterkpunte is dat hy druk kan hanteer. Die 2019-Wêreldkampioenskap in Doha (waar hy vierde met sy tyd van 9,93 sekondes geëindig het) is dalk sy grootste teleurstelling. Hy het daardie medalje as’t ware ‘verloor’ en hy sal Sondag met iets spesiaal vorendag wil kom.”

Indien Simbine vir Sondag se eindronde kwalifiseer, staan net ’n rapsie meer as nege sekondes tussen hom en moontlike Olimpiese glorie.

Vinnigste 100 m-tye in 2021:

  1. Trayvon Bromell 9,77 sekondes
  2. Akani Simbine 9,84 sekondes
  3. Marvin Bracy en Ronnie Baker 9,85 sekondes
  4. Fred Kerley 9,86 sekondes
  5. Isiah Young 9,89 sekondes

Die 100 m-uitdunrondes vind môre vanaf 12:45 plaas, terwyl die eindstryd Sondag om 14:50 wegspring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.