Goue Gerda kry brons in Dubai

’n Argieffoto van Gerda Steyn. (Foto: Facebook/Gerda Steyn)

Suid-Afrika se Gerda Steyn het vandag derde in die Dubai-marathon se 10 km-wedloop geëindig.

Die Bothaville-boorling het op sosiale media gesê dat sy heel tevrede met haar tyd van 33:27 min is.

“Ja, ek het weliswaar nie die wêreld aan die brand gehardloop nie, maar dit is beter as wat ek verwag het,” het Steyn gesê.

Die 33-jarige langasem is sedert 2018 in aksie in die 10 km-wedloop van die woestynstad-marathon en sy het dit reeds vier keer gewen.

“Ek kan nie aan ʼn beter manier dink om die nuwe jaar af te skop as om weer eens daaraan deel te neem nie,” het sy in die aanloop tot die wedloop gesê.

Sy het egter erken dat ʼn week of twee se bykomende voorbereidingswerk ʼn definitiewe verskil sou gemaak het.

“Ek wou egter glad nie die wedloop mis nie omdat ek dit nou al vir ʼn hele paar jaar gedoen het. Ek is bly dat ek deelgeneem het; dit was ʼn pretoggend!”

Steyn het in Desember haar eie Suid-Afrikaanse marathonrekord van 2:25:28 na 2:24:03 verbeter toe sy die 11de vroueatleet oor die wenstreep in Valencia in Spanje was.

Die glimlaggende atleet laat omtrent vir jou die rekords spat: Met haar wentyd van 5:44:54 in die 2023-weergawe van die Comrades-marathon het sy nie net hakskene vir haar ander teenstanders gewys nie, sy het ook Frith van der Merwe se rekordtyd op ʼn drafstap verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.