Gerda laat rekord spat!

Gerda Steyn is ongetwyfeld Suid-Afrika se goue langasem. (Foto: Twitter/TheLegalSA(

Wanneer Gerda Steyn oor drafwerk praat, kan jy maar luister.

Suid-Afrika se goue marathonmeisie het in aanloop tot vanjaar se Comrades-marathon gesê dat sy ʼn vertoning wil lewer waarop almal trots kan wees.

En oudergewoonte het sy nie teleurgestel nie.

Met haar wentyd van 5:44:54 het sy nie net hakskene vir haar ander teenstanders gewys nie, sy het ook Frith van der Merwe se rekordtyd op ʼn drafstap verbeter.

Steyn moes dalk haar wedloopstrategie so ʼn bietjie aanpas nadat van haar teenstanders die wegspringpas lekker vinnig gemaak het. Maar waar hulle een vir een in die stof gebyt het, het sy doodeenvoudig net aangehou.

Kort voor lank was die horlosie haar enigste teenstander, maar selfs die tikkende sekondewyser kon later nie meer by haar kers vashou nie.

Met die eindpunt in sig het Steyn haar sonbril opgeskuif, vir die toeskouers gewaai en breed geglimlag.

Sy het ʼn laaste bietjie aanmoediging van krieketspeler Shaun Pollock gekry, die burgemeesterstaf in ontvangs geneem en met ʼn huppel in die stap oor die eindstreep gedraf.

Ná ʼn gelukwenssessie of twee het sy omgedraai en al drawwend vir haar ondersteuners gewaai en dankie gesê.

“Dít is die beste dag van my drafloopbaan en ek is so dankbaar om deel van die Comrades te wees.”

Sy het ook ʼn spesiale woord van dank vir haar familie gereed gehad, terwyl sy ook al haar ondersteuners bedank het.

“Dit het later vir my gevoel of die hele land bankvas agter my staan en ek sal hierdie oomblik vir altyd koester. Terselfdertyd wil ek ook net vir die Here dankie sê vir die krag wat Hy my gee.”

  • Frith van der Merwe se rekord van 5:54:43 is in 1989 opgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

Uitstekend, was wonderlik om jou te sien met jou pragtige glimlag en erkenning aan almal wat jou ondersteun! Jy verdien dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.