Harde werk maak marathondroom waar vir super Gerda

Gerda Steyn op pad wenstreep toe. (Foto: X/Gerda Steyn)

As ʼn mens na Gerda Steyn se jongste sosiale media- inskrywings kyk, is dit duidelik dat sy ná die naweek se Twee Oseane-marathon ʼn regmerkie langs een van haar grootste doelwitboksies kan maak.

Steyn het die 56 km van dié gewilde ultramarathon in ʼn spogtyd van 3:26:54 kafgedraf. Dit was nie net haar vyfde oorwinning op ʼn streep nie, maar sy het ook haar eie rekordtyd met meer as twee minute verbeter.

Volgens die 34-jarige langasem het harde werk haar droom ʼn werklikheid gemaak.

“Daar is nie eintlik woorde om te beskryf hoe ek voel nie, maar ek weet wel dat ek tans ʼn baie dankbare mens is. Ek het almal se ondersteuning van die begin tot die einde gevoel – baie dankie!” het sy gedeel.

Steyn het Saterdag oudergewoonte van die wegspring tot die wenstreep beïndruk, maar sy het in die pylvak die spoedkrane oopgedraai om op ʼn drafstap te wen.

“Ek het nie presies geweet hoe groot my voorsprong was nie, maar ek het vermoed dat ek vinniger as my vorige beste tyd was. Dit was ʼn lekker meevallertjie toe ek sien dat die horlosie 3:26 wys! Dit is ʼn groot voorreg om die rekord te verbeter en ek is dankbaar vir die geleentheid,” het sy na afloop van die aksie gesê.

Sedert sy in 2018 vir die eerste keer met die Twee Oseane-louere weggehardloop het, word sy jaarliks net vinniger.

Vyf eerste plekke op ’n streep. (Foto: X/Two Oceans)

Sy sal nou ʼn blaaskans neem en dan die res van die jaar mooi beplan – die Comrades en die Olimpiese Spele is immers op vanjaar se spyskaart.

Die blits van Bothaville is die verdedigende Comrades-kampioen (natuurlik met ʼn rekordtyd), terwyl sy ʼn paar jaar gelede 15de in die Tokio-spele klaargemaak het.

Sy het al vantevore haar waardering vir die Comrades uitgespreek.

“Vir my is die Comrades-marathon enig in sy soort. Dit is die oudste en mees gesogte pad-ultramarathon en om die wedloop te voltooi is ʼn belewenis wat ʼn mens nie sommer kan beskryf nie. Die duisende drawwers wat jaarliks saam die pad aandurf is ʼn unieke ervaring en ʼn juweel van ons land!”

Maar vir eers kan sy gerus haar merkwaardige Twee Oseane-vertoning in Kaapstad geniet.

“Wat ʼn wedloop, wát ʼn stad en wát ʼn ongelooflike ervaring. Sien julle volgende jaar!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Ek wonder net altyd by myself, WAAR en wanneer en HOE oefen hierdie mense op hierdie onveilige en geweldadige paaie. Vrou alleen? Hulle oefen seker maar as groepe saam?

Hendrik ·

Frank ons bly seker op ‘n ander plek in SA waar ons veilig in ons strate kan loop, hardloop, fietsry en stap. Ons is inderdaad bevoorreg. #Kleinfontein Pta. Ek wonder self waar oefen Gerda.

George ·

@Frank daar is baaaaie plek waar jy langafstand kan oefen, vrek baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.