Jong gewigstootreus kwalifiseer vir Spele

Kyle Blignaut. Foto: Reg Caldecott.

Kyle Blignaut is ’n groot sportman met selfs groter potensiaal. Die Tukkies-gewigstootatleet, wat 1,95 m in sy sokkies staan en die skaal met sy 148 kg laat kreun, het pas vir die Olimpiese Spele met ’n bobaas-poging van 21,21 m by die USSA-kampioenskap in Johannesburg gekwalifiseer.

Die 21-jarige ster se droomlopie het by die SA Kampioenskap in Pretoria begin waar hy goud met ’n poging van 20,82 m gewen het. Hy het dit opgevolg met ’n kragvertoning van 21,03 m in Potchefstroom, terwyl sy jongste poging beteken dat hy Suid-Afrika se derde beste gewigstoot-atleet ooit is.

“Ek het nie baie goed gevoel toe ek besig was met my opwarmingsoefening nie en het sommer ’n paar oefengooie gedoen om my spiere lekker warm te kry. My vierde gooi van 21,14 m het die adrenalien behoorlik deur my are laat bruis,” het Blignaut gesê.

’n Paar minute later het sy poging van 21,21 m deur die lug geklief.

“Ek wil graag op ’n meer gereelde grondslag verder as 21 m stoot. Ek dink dit is waarom ek so opgewonde is om volgende maand in Europa deel te neem. Hoe meer ek kragte teen die beste meet, hoe beter sal ek vertoon. Ek dink 21,40 m sal jou plek in die Olimpiese finaal bespreek.”

Gift Leotlela. Foto: Reg Caldecott.

Nog ’n Tukkies-atleet, Gift Leotlela, het die sesde Suid-Afrikaanse naelloper geword om die 100 m in minder as tien sekondes kaf te draf.

Die blits, wat deel van Suid-Afrika se goue aflosspan in Pole was, het sy item met ’n spogtyd van 9,94 sekondes in Johannesburg gewen.

“Dit is ’n onbeskryflike gevoel. Ek het goed in die finale lopie weggespring, waarna dit bloot ’n geval was om my beste tot die eindstreep te gee,” het Leotlela gesê.

In 2016 het hy die silwer medalje in die 200 m-item by die Junior Wêreldkampioenskap in Pole losgehardloop, maar beserings het sy loopbaan sedertdien gekniehalter.

Die Suid-Afrikaanse rekordhouer, Akani Simbine, is egter opgewonde oor Leotlela se toekoms.

“Dit is wonderlik om vir Gift terug op die baan te hê; hy kan ongetwyfeld een van die bestes word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

C-Monster ·

Hierdie atleet lyk baie baie goed.
Hoop hy bly beseringvry, en styg tot nog hoër hoogtes.
Hierdie tyd van 9.94 plaas hoog op die lys van beste tye tot dusver in die wêreld. Selfde liga as Matt Boling en Terrance Laird wat op die oomblik groot nuus in die atletiekwêreld is

pompies ·

Hulle gooi nie die gewig nie hulle stoot die gewig julle artikel lees verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.