Olimpiese Spele: Simbine eindig vierde

Lamont Marcell Jacobs en Akani Simbine tydens die 100 m-eindronde in Tokio. (Foto: Giuseppe CACACE / AFP)

Akani Simbine het in sy wedloop geëindig waar geen atleet by die Olimpiese Spele wil eindig nie – in die vierde plek. Hy was met sy tyd van 9.93 so min as 0.04 sekonde agter Andre de Grasse (9.89) van Kanada wat die brons medalje in Tokio gewen het.

Die 26-jarige Italianer Lamont Marcell Jacobs het verras en ʼn persoonlike beste tyd van 9.80 aangeteken. Die Amerikaner Fred Kerley het silwer gewen in 9.84 sekondes.

Dit was veronderstel om ʼn gloriedag vir Suid-Afrika te wees met drie atlete wat deurgedring het na die halfeindronde van ʼn item wat 13 jaar lank deur die Jamaikaanse wonder Usain Bolt oorheers is.

Shawn Maswanganyi (10.10) was in die eerste halfeind in aksie met net twee atlete wat vir die finaal sou kwalifiseer asook die twee vinnigste atlete uit die drie halfeindwedlope. Hy kon net sesde in sy wedloop eindig.

Daarna was dit Gift Leotlela se beurt om aan te tree. Hy was vierde in ʼn tyd van 10.03 sekondes.

In die laaste en vinnigste van die halfeindwedlope was Simbine ook vierde. Sy tyd van 9.90 was vinnig genoeg om deur te dring na die eindronde.

In die 400 m hekkies vir mans het Suid-Afrika se Sokwakhana Zazini (48.99) sewende klaargemaak in sy halfeindwedloop. Hy het nie vir die finaal gekwalifiseer nie, maar het sy beste tyd van die seisoen gehardloop.

Suid-Afrika se hoop is nou op Wayde van Niekerk in die 400 m waar hy Maandagmiddag in die halfeind hardloop.

Die tweemalige wêreldkampioen in driesprong vir vroue, Yulimar Rojas van Venezuela, het die goue medalje gewen met ʼn nuwe wêreldrekord. Sy het in haar laaste sprong 15,67 meter deur die lug getrek. Sy het daarmee Inessa Kravets se rekord van 15,50 meter verpletter wat in 1995 opgestel is. Dit was die eerste wêreldrekord in atletiek in Tokio.

Rojas was in 2017 en 2019 die wêreldkampioen en het in 2016 die silwer medalje by die Rio Spele gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.