Pyn vir Akani, vreugde vir Wade

Die VSA se Noah Lyles, Botswana se Letsile Tebogo en Brittanje se Zharnel Hughes nael oor die eindstreep in die 100 m-finaal by die Wêreldatletiekkampioenskap. (Foto: Ferenc Isza/AFP)

Die tweede dag van die Wêreldatletiekkampioenskap wat in Boedapest, Hongarye, gehou word, was weer met ʼn hele paar goue drade verweef, maar daar was ook verskeie hartseer verhale van blydskap en pyn.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt was dit Sondagaand sekerlik ʼn emosionele ervaring vir Akani Simbine, Suid-Afrika se voorste naelloopatleet, om die eindronde van die 100 meter gade te slaan.

Simbine moes eintlik in die wegspringblokke saam met die keur van die wêreld se blitse gesak het, maar hy is in die halfeindronde gediskwalifiseer nadat hy te vinnig weggespring het. Sy reaksietyd was 0,078 sekondes, maar Wêreldatletiek se perk bepaal dat alles vinniger as 0,1 sekonde ʼn rooi kaart regverdig.

Die eindronde is deur die Amerikaner Noah Lyles (9,.83 sekondes) gewen met Letsitele Tebogo van Botswana (9,88) tweede en Zharnel Hughes van Brittanje derde (9,88).

Wayde van Niekerk (44,57) was vroegoggend eerste in sy uitdun in die 400 m.

ʼn Mens moet dalk nie te gou praat nie, maar hier kom dalk goud, of Suid-Afrika se eerste medalje.

Sy landgenoot Zakhiti Nene (44,88) was vierde vinnigste en het deurgeskraap, maar Lythe Pillay (44,58) was nie so gelukkig nie.

In die 10 000 m vir mans het Suid-Afrika se Adriaan Wildschutt (28:21,40) Sondagaand 14de geëindig. Die titaniese wedloop is deur Uganda se Joshua Cheptegei (27:51,42) gewen, wat Daniel Ebenyo van Kenia (27:52,50) en Selemon Barega van Ethiopië (27:52,72) geklop het.

In die 400 m-uitdunne het Zenéy van der Walt tot Maandag se halfeindronde deurgedring toe sy derde in haar uitdun (51,76) geëindig het, maar Miranda Coetzee (52,30) en Marli Viljoen (53,73) het uitgeval.

In die 1 500 m-halfeindronde was Tshepo Tshite (3:32,28) ʼn rapsie te stadig om vir die eindronde te kwalifiseer.

Een van die groot teleurstellings was in die 110 m-hekkies vir mans waar Antonio Alkana (14,215) laaste in sy uitdun geëindig het.

Yolandi Stander (53,39 m) kon ook nie vir die diskusgooi vir vroue kwalifiseer nie.

Van dag twee se ander groot hoogtepunte was Katarina Johnson-Thompson van Brittanje (6 740) wat die sewekamp vir vroue voor Anna Hall van Amerika (6 720) en Anouk Vetter van Nederland (6 501) weggeraap het.

In die verspring vir vroue het ʼn uiters emosionele Ivana Vuletas van Serwië (7,14) die goue medalje gewen.

Maandag is twee Suid-Afrikaners in aksie.

Miré Reinstof in die paalspring vir vroue en Van der Walt in die 400 m-halfeindronde en laataand in die moontlike eindronde.

Bronne: BBC, Wêreldatletiek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mnr De Beer ·

Akani Simbine kan dit doen. Net nie opgee nie. Aanhou probeer. Wayde van Niekerk is great.

Nici ·

Sou nice gewees het om te weet hoeveelste Simbine was voor hy gediakwalifiseer was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.