Soet en suur van Wêreldatletiekbyeenkoms

Vir die derde agtereenvolgende Wêreldbyeenkoms kon Suid-Afrika se atlete geen medalje wen nie. (Foto: Attila Kisbenedek/AFP)

Dit was nege heuglike dae wat menige sportliefhebber ure lank vasgenael voor die kassie gehou het.

Maar uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt was die Wêreldatletiekbyeenkoms uiters teleurstellend – dit het weer medaljeloos geëindig.

ʼn Rekordgetal van 2 100 atlete uit 195 lande het atletiek die afgelope nege dae opnuut op die voorgrond geplaas by die suksesvolle Wêreldkampioenskap wat Sondagaand in Boedapest, Hongarye, ten einde geloop het.

Een wêreldrekord is verbeter, een o. 20-rekord is laat spat, sewe kampioenskaprekords het in die slag gebly en 73 nasionale rekords is verbeter.

Daar was goue oomblikke, soos die goue medaljes wat die twee Amerikaanse naellopers, Noah Lyles (mans 100 m, 200 m en 4×100 m-aflos) en Sha’Carri Richarson (vroue 100 m en 4×100 m-aflos), verower het.

Só ook was daar die Spaanse oorheersing in die stap-items met Alvaro Martin en Maria Perez wat albei twee keer koning gekraai het.

Die Keniaanse middelafstandatleet Faith Kipyegon was in die kollig (die eerste vrou met goue medaljes in die 1 500 m en 5 000 m) en die Nederlandse 400 m-hekkiesatleet Femke Bol het die byeenkoms met ʼn goue medalje in die 4×400-aflos afgesluit nadat sy vroeër ook die 400 m-hekkies gewen het.

Ander uitsonderlike prestasies was Venezuela se Yulimar Rojas wat haar vierde goue medalje in die driesprong gewen het, terwyl Lyles (200 m), Kipyegon (1500 m), Joshua Cheptegei (10 000 m), Grant Holloway (110 m-hekkies) en Karston Warholm (400 m-hekkies) almal hul derde titels in hul onderskeie items gewen het.

Uit ʼn medaljeoogpunt het 23 lande goue medaljes gewen, 26 lande silwer en 24 lande brons.

Altesame 46 lande het medaljes gewen en atlete van 71 lande het tussen die top-agt geëindig.

Afrika (vyf lande) se atlete het nege goue medaljes verower.

En Suid-Afrika?

Vir die derde agtereenvolgende Wêreldbyeenkoms kon die land se atlete geen medalje wen nie – niks in 2019 in Doha nie en ook geen medaljes verlede jaar in Eugene, Oregon, nie.

Suid-Afrika kon ses jaar laas op ʼn podium staan en dit is sy langste medaljedroogte.

Daar was hoë verwagtinge van veral Wayde van Niekerk (400 m), Akani Simbine asook die 4×100-aflosspan, maar daar het dadels van gekom.

Simbine is in die halfeindronde van die 100 m gediskwalifiseer nadat hy te vinnig weggespring het. Van Niekerk het laaste in die eindronde van die 400 m geëindig en die aflosspan het die stokkie laat val.

Zenéy van der Walt het tot die halfeindronde van die 400 m-hekkies deurgedring asook Zakithi Nene in die 400 m vir mans. ʼn Paar ander Suid-Afrikaners het op hul vorige beste tye verbeter.

Bron: Wêreldatletiek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wit Leeu ·

NIKS ANDERS AS SUUR DRUIWE NIE…………………………………

MAGRIETHA ·

EKhet hierdie atletiek gekyk baie goeie byeenkoms maar SA atlete kort baie aandag as hul met die res van die wereld wil saam gesels en ook miskien afrigters

Bolandse Nooi ·

Eerlikwaar gesproke? Dít is die direkte gevolg van “transformasie” wat in almal se kele afgedruk word. Kwaliteit wat opgeoffer word vir kwantiteit. M.a.w – mense wat werklik op MERIETE in die verteenwoordigingspan vir die land moet wees, is nie daar nie, want hulle is nie donker genoeg nie.

Kompas ·

Baie min geld word vir atlete in Suid-Afrika gegee. Alles gaan na rugby, krieket, sokker en golf. In dieselfde mond het ons atlete soos amateurs gelyk teen die wêreld se bestes.

Ronél ·

Boedapest het alle verwagtinge oortref………onwillekeurig het ek bly uitsien na ‘n Suid-Afrikaanse deelnemer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.