Proteas laat waai in Mumbai

Quinton de Kock het 174 lopies teen Bangladesj gemoker. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Onthou julle nog die dae – nie te lank gelede nie – toe almal nog oor die Proteas se vrot kolfwerk gekla het?

Die Suid-Afrikaners wys egter by die Wêreldbeker-toernooi in Indië dat ʼn swak punt inderdaad in ʼn krag omgeskakel kan word wanneer voldoende mates elmboog-ghries en toewyding toegepas word.

Quinton de Kock het die Protea-kolfvertoning teen Bangladesj in Mumbai met sy derde honderdtal van die internasionale krieketskouspel gelei.

Hy het gedryf, gekap en die bal met minagting van sy beenskutte opgetel om 174 lopies van slegs 140 balle aan te teken.

De Kock het veral die boulwerk van Shakib Al Hassan geniet en hy het 22 lopies van een van sy draaierbeurte gemoker.

Dit het in ʼn stadium gelyk of Suid-Afrika se eerste dubbele honderdtal in dié formaat van die spel ʼn blote formaliteit is, maar hy is op die grens van Hasan Mahmud se boulwerk uitgevang terwyl hy vinnige lopies gejaag het.

Dan het Heinrich Klaasen maar Heinrich Klaasen-dinge gedoen en hy het ʼn paar hengse sesse in sy blitsbeurt van 90 lopies van 49 balle getimmer.

Ná 50 boulbeurte het die Proteas 382/5 op die telbord gehad nadat hulle meer as 140 lopies in die laaste tien boulbeurte aangeteken het.

Hulle het beslis een van die gevaarlikste – selfs dié gevaarlikste – kolflyste by die Wêreldbeker-toernooi.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 382/5 in 50 boulbeurte: Quinton de Kock 174, Heinrich Klaasen 90 en Hasan Mahmud 2/67.

  • Protea-span: Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Rassie van der Dussen, Aiden Markram, Heinrich Klaasen, David Miller, Marco Jansen, Gerald Coetzee, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Lizaad Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Ons het moontlik ons beste kans om die final te haal die jaar, ons met net kophou en nie spanne soos Afghan onderskat soos ons met Nederland gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.