Proteas wen rillerstryd!

Die Proteas vier hul sege. (Foto: Twitter)

Diegene wat gedink het dat die veggees die Suid-Afrikaanse krieketspan soos ’n selfoon ’n niksvermoedende toeris se broeksak in Hillbrow verlaat het, moes net vanmiddag na Lungi Ngidi se tweede laaste aflewering teen Australië gekyk het.

Die Aussies moes nog net 21 lopies vir ’n gemaklike sege aanteken toe Mitchell Marsh ’n aflewering van Ngidi oor sy kop na die grens slaan. Faf du Plessis het egter die bal gevang en, toe hy sien dat momentum hom oor die grens sou dra, het hy die bal in die rigting van David Miller gegooi.

Miller het op sy beurt soos ’n wafferse akrobaat geduik om die bal uit die lug te pluk om ’n verslae Marsh terug na die kleedkamer te stuur.

Dié stukkie briljante veldwerk was vandag waarskynlik die vonk wat die Proteas nodig gehad het om die tweede T20-wedstryd in Port Elizabeth met 12 lopies te wen.

Sodoende is die komende derde kragmeting tussen dié twee spanne basies ’n eindstryd nadat die besoekers die eerste wedstryd met 107 lopies op die Wanderers gewen het.

Vandag se spogsege is egter belangrik om twee redes vir die Proteas: Dit is nie aldag dat ’n span só goed terugkom nadat hulle in die vorige wedstryd verrinneweer is nie en tweedens was dit vir ’n slag hul teenstanders wat met die chokers-etiket om die nek loop.

Quinton de Kock het vroeër vandag die loot gewen en besluit om eerste te kolf en dinge het goed gelyk met die telling op 30/0 ná slegs drie boulbeurte.

Die nuwe Suid-Afrikaanse kaptein het die grens met ’n paar verstommende houe gevind, maar toe hy vir 70 uitgehaal is, het die Proteas se kolfbeurt stoom soos ’n oupa-lokomotief, wat sy asmapompie by die stasie vergeet het, verloor.

’n Teiken van 159 sou dalk nie heeltemal genoeg gewees het nie en met die Aussies wat sonder enige moeite 124 in net minder as 16 boulbeurte aangeteken het, was die skrif so te sê aan die muur vir die Suid-Afrikaners.

Maar Ngidi, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé het drie skitterende boulbeurte afgestuur om drie kolwers uit te knikker.

Nortjé, wat 17 lopies in sy laaste boulbeurt moes verdedig, het slegs vier lopies afgestaan om ’n briljante terugvegpoging vir die Suid-Afrikaners af te rond.

Vandag moet as een van hul beste oomblikke in T20-krieket tel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

charmaine ·

DIt was mooi en goeie krieket en vir slag was ons verld werk puik

Genis ·

Shame ou Faf se uitstekende veldwerk het opgemaak vir sy kolf sessie… Dis amper vir my of ons kolwers “stage fright” het? Raak rustig manne, en speel krieket..

Ruan ·

Kyk ek is ‘n groot sport driftige. Rugby, Krieket, golf, ens. ens. Ek kyk to sokker maar nie die lokale spanne nie. UEFA League. Maar om terug te kom by krieket. Wat gaan aan met ons kolwers?? As de Kock nie punte aan teken nie kry ons niks lopies nie. Hy sit hoë punte op en die ander kom nie naby nie. Miller, Faf, waar is daai “spark”. Van der dussen wat heeltemal deesdae uit die bus uit val. Kyk as al die anne hul deeldoen met die kolf in die hand gaan die ander spanne dit baie moeilik vind om ons te vang. Dis asof as de Kock uit is ons net nie meer wil nie. Just my 2 cents.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.