Stephan groet krieket met blitsige vyftigtal

Stephan Myburgh het 63 lopies in sy laaste eendagbeurt geslaan. Foto: Twitter.

Stephan Myburgh was vir 17 jaar ’n professionele krieketspeler. Maar op Maandag 4 April 2022 het hy die laaste wedstryd van sy loopbaan gespeel toe Nederland vir Nieu-Seeland in Hamilton aangevat het.

Dit was ook die Kiwi-ster Ross Taylor se finale wedstryd, maar Myburgh se kolf het vir oulaas die hardste gepraat.

Die Suid-Afrikaans gebore speler het sommer vanuit die staanspoor in Nederland se lopiejaagtog die bul by die horings gepak om drie grenshoue in Matt Henry se openingsboulbeurt te moker.

Om die bogenoemde grenshou-fees in perspektief te plaas: Dit is die einste Henry wat vroeër verwoesting onder die Protea-kolwers in Christchurch gesaai het.

Die 38-jarige Myburgh het sy vyftigtal van slegs 33 aflewerings af gemoker en hy is uiteindelik vir 64 lopies van 43 balle uitgehaal. Sy laaste kolfbeurt het 13 viere en ’n ses bevat.

“Dit was beslis een van die lekkerste kolfbeurte van my loopbaan,” het die openingskolwer vir Maroela Media gesê.

Hy het 14 grenshoue in die beurt gemoker. Foto: Michael Bradley/AFP.

Hy het in die eerste twee wedstryde van die reeks effens gesukkel en die senuwees het ietwat op die vooraand van die wedstryd geknaag.

“Die Here het my beslis gehelp om rustig te word en weer dieselfde vreugde te ervaar wat ek as jong seun gehad het toe ek saam met my broer (Johann Myburgh) en pa in die agterplaas krieket gespeel het.”

Die talentvolle kolwer het in Pretoria skoolgegaan en hy was saam met toekomstige Protea-sterre soos AB de Villiers en Faf du Plessis in Noord-Gauteng se o. 11-krieketspan opgeneem.

Tog het sy krieketpaadjie ʼn gans ander roete gevolg.

Hy was tydens ’n paar Wêreldbeker-toernooie vir Nederland in aksie, terwyl hy een van die vinnigste T20-vyftigtalle geslaan het.

“My droom was natuurlik om vir Suid-Afrika te speel, maar om internasionale krieket te speel was ’n geleentheid wat ek met albei hande aangegryp het,” het hy in ’n destydse onderhoud gesê.

En hy het beslis die beste van elke geleentheid gemaak.

Myburgh sluit sy internasionale loopbaan met nege internasionale vyftigtalle af en hy kon sy stempel in 2014 teen die Proteas afdruk toe hy 51 lopies van slegs 28 aflewerings teen die Suid-Afrikaners gemoker het.

Hy vier een van sy spog-vyftigtalle gedurende die T20-Wêreldbeker van 2014. Foto: Verskaf.

Tog staan die horlosie vir niemand stil nie en hoewel dit g’n maklike besluit was nie, terwyl die Nederlandse spanbestuur ook wil hê dat hy vir ’n paar T20-wedstryde moet aanbly; het hy geweet dat dit nou die regte tyd is om sy uittrede aan te kondig.

“As krieket so lank deel van jou lewe is, is dit moeilik om te weet wanneer om te stop. Tog het ek drie jaar gelede die sakewêreld betree en ek het net kans gekry om een keer per week te oefen. ’n Mens moet dan realisties wees en besef dat jy nie bestendig genoeg gaan wees nie.”

Myburgh se gesin en familie is vir hom baie belangrik en die vooruitsig om meer tyd saam met hulle deur te bring laat hom breed glimlag.

“Hul ondersteuning is van onskatbare waarde en as dit nie vir hulle was nie, sou ek definitief nie vandag hier gewees het om oor my krieketloopbaan te praat nie.”

Hoe sal hy onthou wil word?

“Ek wil bitter graag onthou word as ’n kind van Jesus. Dit klink dalk vir baie nie na iets nie, maar vir my is dit baie belangrik. Ek wil onthou word as ’n man van waardes, eerlikheid en iemand wat ander altyd met respek hanteer het. Hulle hoef my nie vir my krieket te onthou nie, maar vir my menswees.”

Stephan Myburgh was egter al vanaf sy laerskooldae ’n flambojante kolwer wat nie geskroom het om kanse te waag nie.

Dit is lekker om te weet dat hy sy loopbaan op dieselfde manier – met ’n paar kragtige kap- en dryfhoue – afgesluit het as waarmee hy dit destyds as ’n jong seun in Pretoria begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.