Temba sal nie voorkeurbehandeling geniet

Temba Bavuma op die oefenveld. (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Temba Bavuma se status as Suid-Afrika se eendagkrieketkaptein beteken nie dat hy voorkeurbehandeling sal ontvang nie.

Die 33-jarige kolwer het ʼn dyspierbesering in die Proteas se laaste Wêreldbeker-groepwedstryd in Ahmedabad opgedoen en hy hoop om gereed te wees vir Donderdag se halfeindstryd teen Australië.

“Op die ou einde is niemand groter as die span nie. Dit geld vir Temba en enige ander speler,” het afrigter Rob Walter gesê.

“Kapteinskap beteken nie dat ʼn speler voorkeur geniet nie. Veral wanneer hy nog nie voldoende van sy besering herstel het nie en dit ʼn invloed op sy spel het.”

Krieket Suid-Afrika (KSA) het egter vroeër bevestig dat Bavuma op die herstelpad is en hy het Maandag onder die wakende oog van Sizwe Hadebe (fisioterapeut) saam met die span geoefen.

Volgens berigte het die Protea-kaptein nie veel tekens van ongemak getoon nie. Daar wag egter nog ʼn paar toetse op hom voordat hy heeltemal fiks vir die halfeindstryd verklaar word.

Bavuma het in aanloop tot die uitspeelwedstryd teen Australië ook nie juis die wêreld aan die brand in Indië gespeel nie.

Bavuma het sy dyspier in die wedstryd teen Afghanistan seergemaak. (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

In sy sewe Wêreldbeker-kolfbeurte kon hy nog net 145 lopies teen ʼn gemiddeld van 20,71 aanteken – die swakste prestasie onder al die Proteas se topordekolwers.

Maar Walter meen dat Bavuma se onbestendige spelpeil nog nie rede tot kommer is nie.

“Ja, Temba het nog nie die lopies geslaan wat hy graag wil nie, maar elke keer wanneer ʼn mens hom in die nette sien kolf kry jy die gevoel dat ʼn groot beurt net om die draai is.”

Bavuma is vanjaar een van Suid-Afrika se voorste eendagkrieketkolwers. Ondanks sy gesukkel in die Wêreldbeker-toernooi het hy in 2023 steeds 782 lopies teen ʼn gemiddeld van meer as 50 gemoker.

Hy het onder meer honderdtalle teen Engeland (109 lopies in Bloemfontein), die Wes-Indiese Eilande (144 lopies in Oos-Londen) en Australië (114 lopies in Bloemfontein) aangeteken.

“Hopelik sal ons voor Donderdag ʼn finale besluit oor Temba kan neem. In ʼn perfekte wêreld sal ʼn mens seker nie so lank wil wag nie, maar jy wil terselfdertyd ook vir hom die beste kans gee om vir sy land te speel.”

  • Só slaan die Proteas hul Wêreldbeker-lopies:
  1. Quinton de Kock: 591 lopies in nege beurte teen ʼn gemiddeld van 65,66 en ʼn treftempo van 109,24.
  2. Rassie van der Dussen: 442 lopies in nege beurte teen ʼn gemiddeld van 55,25 en ʼn treftempo van 88,57.
  3. Aiden Markram: 396 lopies in nege beurte teen ʼn gemiddeld van 49.50 en ʼn treftempo van 114,45.
  4. Reeza Hendricks: 94 lopies in twee beurte teen ʼn gemiddeld van 48,50 en ʼn treftempo van 103,19.
  5. Heinrich Klaasen: 326 lopies in nege beurte teen ʼn gemiddeld van 40,75 en ʼn treftempo van 140,51.
  6. Marco Jansen: 157 lopies in sewe beurte teen ʼn gemiddeld van 39,25 en ʼn treftempo van 111,34.
  7. David Miller: 255 lopies in nege beurte teen ʼn gemiddeld van 36,42 en ʼn treftempo van 119,15.
  8. Keshav Maharaj: 55 lopies in vyf beurte teen ʼn gemiddeld van 27,50 en ʼn treftempo van 76,38.
  9. Temba Bavuma: 145 lopies in sewe beurte teen ʼn gemiddeld van 20,71 en ʼn treftempo van 75,12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Perform steeds beter as ons vorige kapteine in n wereld beker. Ughm Hansie…12..of was dit deel van die pakket wat hy verkoop het?

Frank ·

Ag ou George, kom oor jouself. Bavuma is nie fiks nie en HOORT nie in enige verdere WB wedstryd met sy gemiddeld van 20 nie. VERAL nie as ‘n openings kolwer nie. Hy moes lankal uitgelaat geword het. De Kock dra nog al die pad die las alleen om ‘n telling op die bord te kry. Bavuma se liggie sal weer skyn, maar nie huidiglik nie.

Casper ·

Sy vorige honderdtalle is niksseggend.In Indië is die kolfblaaie heel anders en ons “agbare” kaptein hoort nie op daai verhoog nie,maar hy sal speel al loop hy op krukke.Met sy wisselvallige vertonings is hy inderwaarheid ‘n seeroog om dop te hou.Daar is veel beter spelers wat as kaptein kan dien in die span maar nee,hy moet ………. wees.

Hennie Biebouw ·

Wel Rob Walter, duidelik het hy voorkeurbehandeling gekry. Hy het selfs erken dat hy nie 100% fiks is nie. Waarom het jul hom dan gekies? Seersekerlik sou Reeza Hendricks ‘n beter opsie wees….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.