Temba terug op pos vir Wêreldbeker

Temba Bavuma. Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Hoewel Temba Bavuma die hele toer na Engeland misgeloop het, sal hy nietemin die Proteas in die T20-Wêreldbeker aanvoer.

Die 32-jarige kolwer het in Junie  ʼn elmboogbesering teen Indië opgedoen en hy het nie saam met die Suid-Afrikaners na Engeland gereis nie. Keshav Maharaj en David Miller het die witbalkrieketspanne in sy afwesigheid op die veld gelei.

Hy het egter voldoende van sy besering herstel en hy sal nie net die kapteinskapleisels in die Wêreldbeker vasvat nie, maar ook in die voorafgaande wedstryde teen Indië.

“Ons is opgewonde om ons kaptein terug te verwelkom en ons weet dat sy terugkeer die span sal versterk,” het Victor Mpitsang (nasionale keurderhoof) gesê.

Rassie van der Dussen is egter nie vir die skouspel oorweeg nie nadat hy sy vinger in die jongste toets teen Engeland op Old Trafford gebreek het.

“Rassie het ʼn operasie ondergaan en hy kan vir tot ses weke op die krukkelys wees. Ongelukkig is die tydsberekening van sy besering glad nie goed nie.”

Die Proteas kan egter steeds op die kolfwerk van Aiden Markram, Reeza Hendricks, Quinton de Kock en David Miller steun, terwyl Rilee Rossouw ook weer deel van die opset is.

Die 32-jarige Vrystater het destyds ʼn Kolpak-kontrak onderteken, maar hy het sy Protea-terugkeer met 96 onoorwonne lopies vanaf slegs 58 aflewerings teen Engeland in Cardiff gevier.

Tristan Stubbs op die oorlogpad teen die Engelse boulers. Foto: Steve Bardens/AFP.

Dan sal Tristan Stubbs sy Wêreldbeker-buiging in Australië maak.

Die jong ster beskik ongetwyfeld oor die X-faktor en ʼn mens is opgewonde wanneer hy stelling voor die paaltjies inneem.

Die openingswedstryd in die T20-reeks teen Engeland in Bristol was Stubbs se eerste kolfbeurt vir die Proteas (hy het in sy twee wedstryde teen Indië nie kolfkans gekry nie) en hy het beslis nie teleurgestel nie.

Hy het 72 lopies van slegs 28 aflewerings gemoker en die agt groot sesse was die kersie op die koek.

Oudergewoonte sal Suid-Afrika op die boulwerk van Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Maharaj en Tabraiz Shamsi steun.

Daar is egter geen plek vir Faf du Plessis in die span nie.

Die voormalige Protea-kaptein het in Julie sy 38ste verjaardag gevier, maar hy is steeds een van die gewildste spelers by die wêreldwye T20-ligas.

Hy het die Royal Challengers Bangalore in die Indiese Premierliga aangevoer, terwyl hy ook ’n kapteinskaprol vir die Johannesburgse franchise in Suid-Afrika se komende T20-toernooi sal speel.

“Ons is baie tevrede met die spelers wat gekies is en ons sien daarna uit om hulle in Australië dop te hou,” het Mpitsang afgesluit.

Suid-Afrika speel sy eerste Wêreldbeker-wedstryd op 24 Oktober teen ’n kwalifiserende span uit Groep B van die toernooi.

Protea-span vir T20-Wêreldbeker: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Rilee Rossouw, Tabraiz Shamsi en Tristan Stubbs.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fran ·

Faf is te wit en daarom sal onfikse Dwergie sy plek vat. Lekker KSA, lekker!

George ·

Snaaks hoe die blankes altyd se ander moet ras uit goed hou, tog elke 2de berig wat ek hier lees, is dit die blankes wat die ras inbring. Faf stel nie belang om vir die Proteas te jol nie, en los hom laat hy sy dollars, ponde en rupees gaan maak.

Hendrik Marthinus ·

Stem ons wit mense Kan nie ophou ras gebruik as hulle nie saam stem met iets nie.
Vra liewer waar is die Malan man, hy Moes daar gewees het.
En Dewald Brevis in plek van Hendriks
Dink ook klaasen is gelukkig om plek te kry, al rede hy Kan back up keeper wees, Dink Marco Jansen Kan ook plek gekry het, hy Kan Lekker kolf as paaltjies vinnig val
Sal hom gespeel het in Nortje se plek
Rede is jy boul net 4 overs en met veldplasing perkings beteken spoed niks

Manie ·

Ek sou vir Malan/Brevis en Mulder in Parnell en Markram se plekke gekies het. Markram is hopeloos “overrated”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.