Blitsbokke wen groep, maar sal moet beter in uitspeelrondes

Dit was heelwat beter as verlede week in Dubai, maar nog ver van waar hulle wil wees, al die het die Blitsbokke Saterdagmiddag boaan groep A van die Wêreldrugby-sewesreeks se Kaapstadse toernooi geëindig.

Hulle het letterlik binne een sekonde daarvan gekom om die All Blacks nie net te klop nie, maar om te verhoed dat die Kiwi’s die heel eerste keer in die 20 jaar van Wêreldrugby se sewesreekse uit die kwarteindronde gehou word.

Die eindtelling was 26-21 ná die Blitse, met 28 sekondes se speeltyd oor, sterk op die aanval was maar deur omkeersbesit en toe swak verdediging ‒ ʼn swakheid waaraan hulle Saterdag te dikwels skuldig was ‒ Nieu-Seeland sien deurnael het vir die drie wat, met die doelskop letterlik ʼn enkele sekonde voor die eindfluitjie, sake gelykop gemaak het.

Daardie een sekonde het beteken dat die spel hervat moet word, en dit was weer foute en verdediging deur die Blitsbokke wat die All Blacks se Vilimoni Koroi 92 sekondes ná die amptelike speeltyd vir die wendrie in die hoek laat oorgaan het.

♦  Dit het gemaak dat Suid-Afrika nie regstreeks vir die kwarteindstryd gekwalifiseer het nie, maar op punteverskil die wenner van groep A was.

Hulle het Samoa met 22-12 geklop en Samoa het met 21-17 teen Nieu-Seeland gewen, wat op hul beurt die Blitsbokke getroef het.

Samoa se  oorwinning teen Nieu-Seeland was die eerste keer in die 20 jaar van die toernooi wat hulle die Kiwi’s in die groeprondes kon pak gee.

♦  Die kompetisiereëls bepaal dat daar in die geval waar twee of meer spanne ʼn gelyke aantal ligapunte het, die wenner van hul kragmeting die boonste plek inneem. Sou hulle gelykop gespeel het of, soos in Saterdag se geval, elk van drie spanne een van die ander geklop het, word die wenner deur die punteverskil bepaal.

Die Blitsbokke was hier met 12 punte beter daaraan toe as die All Blacks, wat tweede was nadat Suid-Afrika teen Zimbabwe met 43-0 gewen het

Die Blitse sal nou Sondag in die kwarteindstryd teen Skotland te staan kom wat altyd gevaarlik is maar Saterdag nie heeltemal oortuig het nie.

Nieu-Seeland speel in hul kwarteindstryd teen Australië wat vir die tweede agtereenvolgende toernooi onoorwonne deur hul groepwedstryde is.

Die wenner van groep C, Fidji, wat stukke beter as verlede week was toe hulle vyfde en Suid-Afrika sesde geëindig het, speel in hul kwarteind teen Spanje, wat verras het deur Argentinië met 35-12 te klop te klop en Japan daarna met 52-0 kaf te draf om sodoende tweede in groep B te eindig.

Engeland, wat met 19-21 teen Fidji in die stryd om eerste plek in groep C verloor het, speel in die ander kwarteind teen die VSA.

Sondag se afskoptye in die kwarteindronde ‒

12:04     Suid-Afrika teen Skotland
12:26     Fidji teen Spanje
12:48     Australië teen Nieu-Seeland
13:10     VSA teen Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.