Cheetahs groet Franco met spogsege

Foto: Cheetahs Rugby/Facebook

Die Vrystaatspan van 2019 is ’n eenheid wat glo hulle is goed genoeg om enige teenstander te troef.

En al het Munster verskeie spelers aan Wêreldbeker-diensplig afgestaan, kon die Cheetahs hulle nog nooit vantevore klop nie. Tot en met Vrydagaand, natuurlik.

Smith se span, met ’n uitstekende Ruan Pienaar aan die stuur van sake, het die Ierse span met 40 – 16 getroef om hul onoorwonne rekord in vanjaar se Pro14-reeks te behou.

Die tuisspan het ses drieë gedruk en spog selfs met voorspelers wat hul ore kan plattrek as dit moet.

Moenie verbaas wees as daar binnekort ’n standbeeld van Franco Smith voor die Mimosa-winkelsentrum in Bloemfontein verrys nie. Want hoewel dié Cheetahs-breier nou sy tasse vir Rome pak, is sy Vrystaatse nalatenskap beslis iets om gevier te word.

Smith het vanjaar gesorg dat sy Cheetahs-spelers met die Curriebeker-louere wegstap én dat hulle met avontuurlustige hardlooprugby al verskeie Guinness Pro14-hardebaardspanne laat les op sê het.

Hawies Fourie neem nou die leisels by Smith oor – net betyds vir ’n paar moeilike wedstryde oorsee. Maar soos wat Rhyno Smith vroeër in ’n onderhoud gesê: Wanneer jy genoeg in jouself glo, kan jy sjampanjerugby selfs op ’n sopnatveld in Europa speel.

Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Ox Nche, Junior Pokomela, William Small-Smith, Joseph Dweba, Jasper Wiese, Rhyno Smith. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4), Tian Schoeman.

Munster: Drie: Dan Goggin. Doelskop: JJ Hanrahan. Strafskoppe: Tyler Bleyendaal (3).

Foto: Ulster Kings/Facebook

In Port Elizabeth het dinge minder goed met die ander Suid-Afrikaanse span in die reeks, die Southern Kings, gegaan.

Ulster het die wind uit die Kings se seile gehaal om die tuisspan 42 – 17 kaf te draf.

Die Iere het verlede week 60 punte teen die Cheetahs afgestaan, maar hulle het vandeesweek self die krane oopgedraai om ses drieë teen die Oos-Kapenaars te druk.

Die Kings kon nog nie ’n wedstryd in vanjaar se reeks wen nie.

Puntemakers:

Kings: Drieë: Tertius Kruger, Aston Fortuin. Doelskoppe: Catrakilis, JT Jackson. Strafskop: Catrakilis.

Ulster: Drieë: John Cooney (2), Luke Marshall, Rob Herring, Matt Faddes, Sean Reidy. Doelskoppe: Cooney (6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karlahari ·

Franco los defnitief ‘n beter nalatenskap as Cheeky en Puke Watson en hul anc kaders…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.