Dié Bokke kan by Kolisi oorneem

(Foto: AP Photo/Mark Baker)

Die Springbok-afrigter Jacques Nienaber het oënskynlik opsies te kies en te keur wat betref spelers wat by die Wêreldbeker-rugbytoernooi die leisels as kaptein by die beseerde Siya Kolisi kan oorneem.

Die senters Lukhanyo Am en Damian de Allende, stut Steven Kitshoff, slot Eben Etzebeth en losvoorspelers Pieter-Steph du Toit en Duane Vermeulen word klaarblyklik almal oorweeg as moontlike instaankaptein.

Kolisi is tans besig om van ʼn ernstige kniebesering, wat ʼn operasie vereis het, te herstel en sal eers in Augustus, wanneer die Springbokke drie Wêreldbeker-opwarmingswedstryde speel, weer behoorlik op die been wees.

Die Springbokke sal op 10 September begin om hul Wêreldbeker-titel teen Skotland in Marseille te verdedig. Die Springbokkamp is egter vol vertroue dat Kolisi teen daardie tyd gereed gaan wees om weer op te draf.

Voor dan sal Nienaber dalk egter twee tussentydse kapteins vir die enkelronde Rugbykampioenskap benodig. Dit omdat hy beplan om die span vir wedstryde teen Australië en Nieu-Seeland te verdeel om vlugflouheid te bekamp.

Nieu-Seeland is tydsgewys sowat tien uur voor Suid-Afrika en die Springbokke beoog om ʼn groep van 15 spelers solank vooruit na Auckland te stuur.

Die verdeling van die span het goed gewerk vir die Springbokke voor die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan, met ʼn oorwinning oor die Wallabies en ʼn gelykoptelling teen die All Blacks wat tot die algehele oorwinning gelei het.

Sou Nienaber slegs sy eerste keuses na Auckland stuur, sal Am, De Allende, Etzebeth en Du Toit waarskynlik ingesluit word.

Am en Du Toit kan dalk teruggehou word om Australië op Loftus Versfeld te pak in wat Rassie Erasmus, direkteur van rugby, as ʼn deurslaggewende wedstryd beskou.

“Ek het begrip dat mense en die media se aandag op die wedstryd teen ons groot mededingers die All Blacks is, maar ons durf nie ons openingsrugbykampioenskapswedstryd verloor nie,” sê hy.

“Die Wallabies kom hierheen met ʼn nuwe afrigter, Eddie Jones, en ons wedywering met hom strek oor baie jare.”

Jones het die Engelse span afgerig wat die Springbokke in die laaste Wêreldbeker-eindstryd geklop het. Volgens Erasmus gee dit hom “meer as genoeg rede om vir ons ore aan te sit”.

Opsies in oorvloed

Siya Kolisi en Eben Etzebeth. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Vermeulen, wat volgende maand 37 jaar oud word, sal ʼn gewilde keuse wees, maar Erasmus het geskimp oor ʼn nuwe rol vir die voormalige Ulster-voorspeler.

“Duane kan dalk ʼn rol soortgelyk as dié van Francois Louw in die laaste Wêreldbeker-toernooi vervul – om 12 minute voor die eindfluitjie blaas van die reserwebank af te kom en ʼn groot uitwerking te hê.”

Die eerste keuse op nommer agt, Jasper Wiese, gaan waarskynlik onder die vroeë aankomelinge in Auckland wees wat beteken Vermeulen kan in Pretoria in die beginspan uitdraf.

Diegene met binnekennis van die Springbokkamp sê Am dwing dieselfde stille gesag af as Kolisi, wat naas John Smit van die suksesvolste Suid-Afrikaanse kapteine is en op ʼn wenkoers van 64% staan.

Du Toit, Rugbyspeler van die Jaar in 2019, is ʼn uitstaande flank en kan na slot oorskakel, maar is geneig tot beserings, waarvan een byna tot ʼn amputasie gelei het.

Die loskopstut Kitshoff het die Stormers gelei na die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap in 2023. Hy word egter dikwels van die bank af ingespan met Ox Nche wat aan die begin van ‘n wedstryd opdraf.

Etzebeth het die Bokke al in die verlede gelei en sy ervaring maak vanselfsprekend van hom ʼn kandidaat.

De Allende word bestempel as die buiteperd in die stryd om die kapteinskap.

Drie Rugbykampioenskap-wedstryde en drie opwarmwedstryde sal Suid-Afrika voorberei vir die Wêreldbeker-titelverdediging.

Ná Skotland pak die Springbokke vir Roemenië, Ierland (tans nommer een in die wêreld) en Tonga in groep B en die wenners en naaswenners dring deur na die kwarteindronde.

Die gasheerland Frankryk, asook Ierland, en Suid-Afrika en Nieu-Seeland, albei driemalige Wêreldbeker-kampioene, is die gunstelinge om die vierjaarlikse toernooi te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

absoluut ·

Kolisi is heeltemal “overrated” en daar is baie beter spelers as hy in daai posisie, dit was voorheen die geval met John Smit ook

Elma ·

John Smit was ongelukkig met die hoeveelheid sterk spelers in sy posisie, maar hy WAS uitstekend.

piet ·

Wie’s die baie beter spelers in sy posisie (die stilte gaan nou weer oorverdowend wees)? Kolisi is klokslag een van ons beste spelers. As hy nie SA speler van die jaar is nie, is hy onder die benoemdes. Smit was ‘n baie middelmatige speler maar redelike goeie kaptein. Kolisi is ‘n uitstekende speler en goeie kaptein. Dis min dat die Bok-kaptein ook een van die beste spelers in die span is. Ons is baie gelukkig om so ‘n kaptein te he.

piet ·

Baie afduimpies maar GEEN voorstelle van beter spelers in sy posisie nie. Nes ek gedink het, julle hou bloot nie van hom nie omdat hy swart is. Tipies.

Jack Russ1 ·

Die mense is altyd vinnig om te kerm en te kla, maar as daar vir oplossings gevra word, dan is die wat die grootste geraas maak baie stil

Christo ·

Enige 1 kan oorvat. Intendeel, Kolisi hoort nie eens in die groep spelers nie, wat nog van kaptein.

Fran ·

Pieter Steph of Vermeulen. Die ander is nie naastenby kapteinmateriaal nie.

B-Man ·

Op Springbokvlak behoort eintlik enige speler kaptein te kan wees. Daarom dink ek dat die kaptein net daar is vir “show” en vir die ref om mee te praat wanneer iemand afgestuur word (of gaan word). Verder luister niemand eintlik na die kaptein deesdae nie.

SjN ·

Niemand is onmisbaar in die samelewing nie! Laat die spelers self die segsman aanwys.

Eugene ·

Laat die spelers self kaptein kies. Ek kan eintlik nie die doel van n’ kaptein sien nie.

Michael ·

Dit gaan eintlik geen verskil maak as Kolisis nie daar is nie-hy dra maar net die titel om die ANC te paai. Dit sal die span nie verswak nie-dalk eerder versterk aangesien daar talle goeie losvoorspelers is

piet ·

Nou hoe is dit dan dat hy gereeld op meriete benoem word as beste speler van die jaar deur die wat weet en die spelers self?

Jack Russ1 ·

Ek was nie altyd ‘n Kolisi ondersteuner nie, maar hy speel baie beter as ‘n paar jaar gelede. Op hierdie stadium hoort hy in die span as speler en kaptein.

Jy is ‘n leier, ongelukkig is almal nie leiers nie en heelwat speel swakker as hulle die bykomende druk op hulle het.

Net soos ‘n openings kolwer in krieket ‘n persoon moet wees wat die druk voorop moet verwerk kan nie almal kaptein wees nie. Baie goeie kolwers kan nie open nie, en baie goeie spelers kan nie kaptein wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.