Esterhuizen, Moodie terug teen Roemenië

André Esterhuizen en Canan Moodie is terug in die Springbok-span. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

André Esterhuizen en Canan Moodie – die senterkombinasie wat die All Blacks hoofbrekens op Twickenham gegee het – is terug in die opdrafspan vir die Springbokke se Wêreldbeker-kragmeting teen Roemenië in Bordeaux.

Bongi Mbonambi sal die kapteinskapleisels van ʼn span vasvat wat met vier skrumskakels in die wedstrydgroep spog.

Cobus Reinach sal die no.9-trui dra, terwyl die blitsige Grant Williams saam met Makazole Mapimpi vir die spoed op die punte sal sorg. Daarbenewens sal Jaden Hendrikse en Faf de Klerk die plaasvervangersbank warm hou.

“Mense was verras toe ons vier skrumskakels in die Wêreldbeker-groep gekies het, maar ons het geweet dat hulle veelsydig genoeg is om vir ons verskillende opsies in die agterlyn te bied. Hulle is almal uitstekende no.9-spelers, maar Grant en Cobus kan ook op vleuel uitdraf, terwyl Faf op losskakel kan uithelp,” het Jacques Nienaber, afrigter, gesê.

Duane Vermeulen, Kwagga Smith en Marco van Staden vorm ʼn goeie lostrio met Marvin Orie en Jean Kleyn wat in die lynstane sal rank.

Vincent Koch en Ox Nche gaan saam met Mbonambi in die Springbok-skrum sak, terwyl Deon Fourie, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, RG Snyman en Jasper Wiese vir die voorspelerslaankrag op die plaasvervangersbank sorg.

Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers moet veral opgewonde oor die senterkombinasie van Esterhuizen en Moodie wees.

Die twee het die All Blacks na die boegoebrandewyn laat gryp en hulle sal ongetwyfeld hul kleim vir ʼn meer permanente plek in die opdrafspan wil afsteek.

Die wedstryd begin Sondag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Grant Williams (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkerveuel), Damian Willemse (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Marco van Staden (flank), Marvin Orie (slot), Jean Kleyn (slot), Vincent Koch (stut), Bongi Mbonambi (kaptein en haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, RG Snyman, Jasper Wiese, Jaden Hendrikse, Faf de Klerk en Jesse Kriel.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Klaar n beter span maar sal nog tans vir Vermeulen en Willemse uit haal en Wiese insit

piet ·

De Allende is goud werd. Wen meters met sy kraglopies. ook baie sterk op verdediging. Met briljante Manie daar kan die agterlyn hardloop met De Alende in die middeveld, hy maak ander planne om dinge aan die gang te kry.

kragaap ·

Die Ellende het nie teen NZ gespeel in Parys nie en dinge was aan die gang.

kragaap ·

Moodie is briljant op senter of vleuel en Esterhuizen maak ‘n groot impak op verdediging. Laat die Ellende rus op die bankie.

Theresa ·

Bly Libbok is nie daar nie, hy skop letterlik punte weg, PSDT moes MOTM gewees het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.