Franse opdrafspan onveranderd vir Boktoets

Frankryk se Damian Penaud, Antoine Dupont en Romain Ntamack. Foto: Martin Bureau/AFP.

Dieselfde Franse opdrafspan wat verlede week met die Wallabies afgereken het, sal Saterdag teen die Springbokke in aksie wees.

Fabien Galthié (afrigter) het egter twee veranderinge op die plaasvervangersbank aangebring met Reda Wardi en Bastien Chalureau wat later hul stempel op die wedstryd moet afdruk.

Daar was vroeër sprake dat Jonathan Danty – wat onlangs pa geword het – sy plek in die span gaan verloor, maar hy is steeds Gael Fickou se sentermaat.

Oudergewoonte sal Antoine Dupont sy span vanuit sy skrumskakelposisie aanvoer. Wêreldrugby se speler van die jaar het juis vantevore gesê dat hy nie kan wag om teen die Suid-Afrikaners kragte te meet nie.

“Ons het nog nie weer teen hulle gespeel sedert Fabien die afrigterleisels vasgevat het nie.  Die Springbokke het goeie en ervare spelers en hulle ken hul rugby, maar ons kan nie wag om hulle in Marseille te verwelkom nie,” het Dupont gesê.

Volgens Faf de Klerk, sy direkte teenstander in die Springboktrui, sal die Suid-Afrikaners hul storie moet ken om die vlugvoetige nommernegespeler in sy spore te stuit.

“Antoine is ʼn baie vinnige en sterk speler, maar ons voorspelers is goed genoeg om hom in toom te hou. Hopelik kan ons hom onder druk plaas, maar dit gaan beslis nie maklik wees om hom te keer nie,” het De Klerk gesê.

Vlok Cilliers is deesdae Frankryk se skopafrigter en hy glo dat die huidige Franse span een van die talentvolste nóg is.

Volgens die Suid-Afrikaanse skopghoeroe het die keerpunt vir die Hane ná die 2019-Wêreldbeker in Japan gekom.

“Die span het toe bymekaar gekom en dinge soos dissipline en bestendigheid getakel. Hulle kan dit byvoorbeeld nie bekostig om die een week met die All Blacks af te reken en die volgende week teen Kanada vas te val nie.

“Ons is nog nie heeltemal waar ons wil wees nie, maar ons is beslis op die regte pad.”

Frankryk: Thomas Ramos (heelagter), Damian Penaud (regtervleuel), Gael Fickou (buitesenter), Jonathan Danty (binnesenter), Yoram Moefana (linkervleuel), Romain Ntamack (losskakel), Antoine Dupont (kaptein en skrumskakel), Gregory Alldritt (agtsteman), Charles Ollivon (flank), Anthony Jelonch (flank), Thibaud Flament (slot), Cameron Woki (slot), Uini Atonio (stut), Julien Marchand (haker) en Cyril Baille (stut). Plaasvervangers: Peato Mauvaka, Reda Wardi, Sipili Falatea, Romain Taofifenua, Bastien Chalureau, Sekou Macalou, Maxime Lucu en Matthieu Jalibert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JD ·

So what as Rassie die onkonsekwentheid van skeidsregters uitwys?
Niks keer ander afrigters om dit te doen nie.
Al wat ons vra is regverdige, konsekwente beslissings na albei kante.

Simon ·

Die Franse is berug (?) daarvoor dat hulle hul skopwerk inspan in ‘n wedstryd, vir verskeie redes natuurlik en met groot sukses en tot groot frustrasie van al wat ‘n nie-Franse hart het nie. Kyk maar na hoe hulle die Aussies geklop het. Vlok (Skop) Cilliers het hierdie wispelturige span se skopwek onder bedwang gekry, met groot sukses. Saterdag gaan dit nie anders wees nie en ek hoop die Bokke het ‘n troefkaart vir die Franse se torries wat gaan vlieg!

Niklaas ·

Ek dink ons gaan swaar leef teen hierdie Franse. Maar ek hoop egter vir ‘n ongewone gelukkige wendag vir die Bokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.