Kolisi (besering en al) lei Bokke se vooraf-span na Nieu-Seeland

Argieffoto

Terwyl 26 Springbokke in Pretoria is om Australië Saterdag op Loftus te pak, lei Springbokkaptein Siya Kolisi die vooraf-groep na Oseanië.

Kolisi was een van 12 Springbokke wat Dinsdag na Nieu-Seeland vertrek het, al verhoed ʼn kniebesering dat hy volgende Saterdag teen die All Blacks kan uitdraf.

Dié wedstryd in Auckland gaan ʼn groot uitwerking op die Rugbykampioenskap hê, met die Suidelike Halfrond-toernooi wat vanjaar tot een ronde verminder is weens die komende Wêreldbeker-toernooi later vanjaar in Frankryk.

Die vroeë aankomelinge sluit vyf agterspelers in: vleuels Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi, die senters Damian de Allende en Jesse Kriel, en die skrumskakel Faf de Klerk.

Daar sal aanvanklik ook ses fikse voorspelers wees: haker Malcolm Marx, slotte Eben Etzebeth en Lood de Jager, en ʼn agterry-trio bestaande uit Kwagga Smith, Franco Mostert en Jean-Luc du Preez.

Jasper Wiese, wat na verwagting die eerste keuse vir agsteman in die Wêreldbeker-toernooi gaan wees, reis later – ná die geboorte van sy kind Maandag – na Nieu-Seeland.

Die vooraf-groep het oorspronklik ook die loskopstut Steven Kitshoff ingesluit, maar hy bly eers tuis vir ingeval Ox Nche weens ʼn borsbesering nie vir die Australië-toets kan uitdraf nie.

Nieu-Seeland is tien ure voor Suid-Afrika en die vroeë reis na die land is deeglik beplan om vlugvoosheid te bekamp. Nog 18 spelers sal na Nieu-Seeland reis ná die toets teen die Wallabies.

Suid-Afrika, die Rugbywêreldbeker-titelhouer, het ook ʼn vooraf-groep met die vorige kampioenskap – vier jaar gelede in Japan – gestuur wat hulle gehelp om hul enigste Rugbykampioenskap-kroon te verower.

Kolisi, wat sedert April weens ʼn kniebesering op die kantlyn is, het al die voorbereidingskampe vir die Rugbykampioenskap bygewoon en sal na verwagting in Augustus beskikbaar wees vir die opwarmingswedstryde voor die Wêreldbeker.

Sy plek as oopkantflank teen Australië word deur Marco van Staden gevul en Smith sal vir Kolisi instaan wanneer hulle Nieu-Seeland aandurf.

Suid-Afrika sal op 10 September met sy verdediging as Rugbywêreldbeker-titelhouer teen Skotland in Marseille afskop, waarna die span dan teen Roemenië, Ierland (tans die no. 1-gekeurde toetsspan), en Tonga in Poel B sal uitdraf.

Ierland en Suid-Afrika sal na verwagting die eerste twee plekke op die finale puntelys beklee en vir die kwarteindronde kwalifiseer, met Frankryk en Nieu-Seeland as waarskynlike teenstanders.

Dié vier lande is die gunstelinge om dié kompetisie te wen wat Nieu-Seeland en Suid-Afrika elk drie keer gewen het; Australië twee keer en Engeland een keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

piet ·

Natuurlik, hy is een van ons beste spelers en word permanent genomineer as speler van die jaar.

kragaap ·

Net goed eerste 40 min teen Europese spanne. Dan bankie toe. Teen AB’s en Aussies sien jy hom net in die agterlyn.

Hendrik ·

Springbok rugby moet geskors word uit wereld rugby totdat alle rassekwotas gestop word op alle vlakke van rugby. Sri Lanka is uit wereldrugby geskors juis agv regeringsinmeging in sport., hoekom ook nie die Springbokke nie?

JohanR ·

Wonder hoeveel rugby lande sal twee spanne van amper die selfde sterkte kan kies? Miskien net die All Blacks.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan behoort die gevaarligte te flikker dat rugby unie in historiese sterk lande soos Wallis, Skotland en Australië gaan uitsterf. Speler getalle daar neem af. In Nieu Seeland speel al hoe minder seuns rugby. Hulle o20 is al vir die afgelope 10 jaar useless. Die ABs word nie meer gevrees nie.

Andre ·

Suid Afrika moet geskors word uit ALLE wêreld sport.Boikot sover moontlik.Die wêreld moet weet wat hier aangaan.As dit moet ondersteun die opposisie.

Hendrik ·

Ja nee soos gewoonlik is daar mense wat eet uit die pot lensiesop en nie dink hoe kwotas ons kinders se moet breek op die sportvelde nie.

mattk ·

Ek laaik julle klomp wat hier so gal braak, maar nog steeds julle geliefde onderdrukte sport kyk. Ek het met die begin van kwotas my DSTV gekanselleer. Gelukkig in die sport waarin ek deelneem word almal op meriete gekies en dit is die span wat kwalifiseer vir Nasionale kleure, nie individue nan verskillende provinsies om die span te vorm nie. Ja, ons kry nie soveel ondersteuning soos bv. rugby of sokker nie, maar ons het Wêreld kampioenskappe elke twee jaar waarin ons skoolseuns en dogters al as kampioene gekroon is en ons SA Junior byeenkomste van die grootste Junior byeenkomste in die wëreld is. Toutrek is ‘n Wêreld sport wat nie deur politiek beheer word nie.

piet ·

Ek het 2 familielede wie se kinders die afgelope 2-jaar Craven Week gehaal het. Moes gekies word want hulle is die beste. Een het reeds ‘n aanbieding gekry om in Frankryk te gaan speel en ek dink hy gaan. Geld is net te aanloklik, jy kan nie die seuns blameer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.