Umaga kap na ‘mooiweer-ondersteuners’

Sam Cane lei sy span van die veld nadat die All Blacks vir Ierland in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi geklop het. (Foto: Twitter/All Blacks)

All Blacks-ondersteuners was in aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi goed die josie in vir Ian Foster.

Onder sy toesig het die Nieu-Seelanders onder meer ’n tuisreeks teen Ierland verloor, terwyl hulle sleg die onderspit gedelf het teen die Springbokke op die Mbombela-stadion en later op Twickenham.

Vir baie was dit ’n blye dag toe die plaaslike rugbybase bevestig het dat Scott “Razor” Robertson die afrigtersleisels by Foster ná die Wêreldbeker-toernooi gaan oorneem.

Maar ná hul nederlaag in die openingswedstryd van die internasionale rugbyskouspel teen die Hane, het Nieu-Seeland gaandeweg ál beter in Frankryk begin speel.

Oudergewoonte is hulle die span met die meeste punte, drieë en suksesvolle doelskoppe, terwyl hulle die gunstelingspan is om die halfeindstrydkragmeting teen Argentinië te wen.

Nou meen Tana Umaga, een van die beste All Blacks-spelers nóg, dat die kritiek jeens Foster nie altyd geregverdig was nie.

Ian Foster. (Foto: Michael Bradley/AFP. )

“Ek dink min mense het geglo dat Ian Foster-hulle ’n kat se kans gestaan het om vir Ierland in die kwarteindstryd te klop. Baie dinge het egter reeds in Nieu-Seeland gebeur en ek kry die afrigter jammer dat hy nie volgende jaar terugkom nie. Dit is nie hoe ons normaalweg optree nie,” het die oudagterspeler gesê.

Hy het ook sy misnoeë met die Kiwi’s se mooiweer-ondersteuners uitgespreek.

“Nou speel ons in die halfeindstryd en almal doen hul bes om weer ’n plekkie op die All Blacks-perdekar te kry. Fozzy is natuurlik goed genoeg om só ’n pad saam met die span te stap en hy het homself met baie bekwame hulpafrigters omring.”

Ontstoke Nieu-Seelandse rugbyjoernaliste het destyds ná die All Blacks se nederlaag teen die Springbokke in Nelspruit geskryf dat Robertson dringend nadergetrek moet word om Nieu-Seeland se “rugbynalatenskap” te beredder.

Tog verloor die Kiwi’s nie sommer ’n toernooi met Foster aan die stuur van sake nie.

In 2020 het hulle die Drienasies-toernooi gewen, terwyl hulle in 2021, 2022 en 2023 met die Rugbykampioenskap-louere weggestap het.

Hulle is beslis ook nog op die regte koers om Webb Ellis-sukses in Frankryk te smaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

vuurvliegie ·

All Blacks for LIFE.
Maak ons weer trots.
60% van Suid Afrika staan agter julle.

Mnr De Beer ·

U bedoel seker 60% van die Cape Maori’s? Want sover ek oor die land beweeg sien ek meeste mense dra Groen en Goud behalwe in die Wes Kaap areas.

Jacobus ·

Dis duidelik dat jy anti Springbokke / SA is. Vertel asb hoe kom jy by 60% uit? Sal dit geniet om jou kommentaar Maandag te lees nadat die Agentyne die AB’s gewen het

Republikein in die Wes Kaap ·

Jou ongevraagde opmerking is die rede waarom die mense hier eerder die All Black steun.

Republikein in die Wes Kaap ·

Meneer, hier in die Kaap is die Stormers ons nommer 1 span, gevolg deur die All Blacks.

Niklaas ·

60 % All black ondersteuners kastig in SA . As jy woon in Otago en selde koerant lees , sal mens sulke vreemde dagdrome kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.