Foto’s: Katinka se ‘perfekte troudag’ in Wildernis

Katinka Oosthuizen en Braam Weyers is Saterdag in Wildernis getroud. (Foto: The Geldenhuyses)

Katinka Oosthuizen, bekende sosialemediafoendi en aanbieder van die musiekprogram Klink soos naweek op VIA, en Braam Weyers is Saterdag in Wildernis naby George in die Wes-Kaap getroud.

Oosthuizen en Weyers het in samewerking met Magriet Groenewald die troue aanlyn vir kaartjiehouers beskikbaar gestel. Sowat 220 kaartjiehouers, sowel as uitgesoekte gaste wat die troue gratis bygewoon het, het regstreeks ingeskakel om deel van die egpaar se groot dag te wees.

Oosthuizen vertel een van die grootste oomblikke van dag was toe haar pa, Francois, haar vir die eerste keer in haar trourok gesien het. Sy het ʼn klassieke, spierwit Anri Ham-skepping vir haar groot dag gekies.

Sy sou dié rok oorspronklik op 9 Mei vanjaar tydens ʼn groot troue op Grabouw gedra het, maar weens die afsonderingstydperk het dié troue nie plaasgevind nie.

“Dit was net die ongelooflikste oomblik om voor my pa te staan in my rok voordat hy my weggee,” vertel sy.

“Toe ek in die paadjie afstap, het die woorde net weggegaan. Jy besef nie eintlik wat gebeur nie, maar dit was vreeslik emosioneel en só mooi. Dit was ongelooflik om vir Braam daar te sien staan.”

Weyers beaam dit. “Om haar in die paadjie te sien afstap was die beste gevoel ooit. Sy het ongelooflik mooi gelyk. Die res van die aand was perfek en ons het lekker partytjie gehou tot laat met liggies wat van die boomtakke afhang. Ek dink nie ons sou vir meer kon vra nie,” sê hy.

Katinka dans met haar pa, Francois. (Foto: The Geldenhuyses)

ʼn Handjievol gaste, wat die egpaar se ouers, haar twee broers en sy twee susters sowel as sy neef ingesluit het, was die enigste gaste wat die troue naby die Kaart van Afrika-uitkykpunt in Wildernis bygewoon het.

“Ons het lofliedere gesing en ons kon voel die Here is werklik teenwoordig. Dit was die perfekte dag! Ek kan nie glo ek is nou amptelik ʼn Weyers nie,” sê Oosthuizen.

Sy het vroeër aan Maroela Media gesê sy steur haar nie aan kritiek van mense wat skepties is omdat hul troue aanlyn te sien was nie.

“My volgelinge is nie vreemdelinge vir my nie; dit is mense wat ek elke dag in my lewe inlaat. Mense wat my en Braam se verhouding van die begin af volg en wat ons ondersteun en hulle voel al soos familie vir ons,” het sy gesê.

Oosthuizen, wat in 2018 in die top-vyf van die werklikheidsreeks Survivor SA geëindig het, het in Desember verlede jaar aangekondig Weyers het by haar ouerhuis op Mosselbaai die jawoord gevra.

Die paartjie se troufoto’s is geneem deur The Geldenhuyses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Baie geluk julle 2. Julle is ‘n toonbeeld van liefde vir die jongmense van vandag. Ek wens julle ‘n pad van 2-rye spore, julle en God sin. Wees geseënd.
Net ‘n bewys dat mens nie ‘n trop mense nodig het om hierdie dag spesiaal te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.