Harry en Meghan koninklike kothuis kwyt

Meghan Markle en prins Harry, die hertog en hertogin van Sussex. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Prins Harry en Meghan Markle sal ander blyplek moet kry vir hulle volgende besoek aan Brittanje.

Luidens mediaberigte is die hertog en hertogin van Sussex gevra om hul huis op die Britse-koninklike familie se Windsor-landgoed te ontruim.

’n Woordvoerder van die egpaar se welsynsorganisasie, Archewell, het dié nuus Woensdag bevestig in ’n verklaring wat met USA TODAY en Page Six gedeel is. Buckingham-paleis het egter nog nie kommentaar hieroor gelewer nie.

Koningin Elizabeth II het in 2018 die gebruik van dié woning, genaamd Frogmore Cottage, as ʼn trougeskenk aan die egpaar gegee.

Frogmore Cottage, binnekort Harry en Meghan se heeltydse woonplek. Foto: Facebook

Die kothuis is aan prins Harry se niggie, prinses Eugenie, en haar man beskikbaar gestel nadat prins Harry en Meghan as werkende koninklikes uitgetree het. Dit het egter steeds as hul amptelike Britse-woning gedien tydens hul besoeke aan die Verenigde Koningryk.

Die paartjie het destyds opslae gemaak deur die woning met belastingbetalers se geld teen ʼn koste van £2,4 miljoen (R52 miljoen) op te knap. Dié bedrag is luidens mediaberigte sedertdien deur die egpaar terugbetaal.

Harry en Meghan is glo in Januarie reeds aangesê om Frogmore Cottage te ontruim, enkele dae ná die publikasie van die prins se opspraakwekkende memoir, Spare.

Die egpaar se dogter, Lilibet Mountbatten-Windsor, het haar eerste verjaardag by Frogmore gevier. (Foto: Instagram)

Koninklike kenners meen dié besluit het nie noodwendig met die inhoud van die boek te make nie, maar is in lyn met koning Charles III se plan van ʼn verskraalde monargie. Daar word berig dat die koning se jonger broer, prins Andrew, die hertog van York, nou in Frogmore Cottage sal woon.

AFP berig dat die afskaffing van Andrew se jaarlikse toelae van £250 000 (sowat R5,2 miljoen) én die onderhoudskostes van sy 30-kamerwoning genaamd Royal Lodge, wat ook op die Windsor-landgoed is, bygedra het tot dié besluit.

Andrew is min in die openbaar te sien sedert die afhandeling van ʼn saak van seksuele aanranding wat deur Virginia Giuffre teen hom aanhangig gemaak is.

Koninklike kenner Omid Scobie, wat Meghan en Harry se nie-amptelike biografie, Finding Freedom, geskryf het, het op Yahoo News ‘n vriend van die egpaar aangehaal wat gesê het dat hul ontruiming van Frogmore Cottage “baie finaal en soos ‘n wrede straf voel”.

Die egpaar se huidige woning in die luukse woonbuurt Montecito in Kalifornië in die VSA, waar hulle Netflix-reeks, Harry & Meghan, verfilm is, is onlangs vir $33,5 miljoen (byna R60 miljoen) gelys.

Dit is ook nog nie bekend of die egpaar koning Charles III se kroningseremonie in Meimaand gaan bywoon nie.

Kate en William trap (fiets)spore in Walliese harte

Dit lyk dit asof die res van die Windsors te midde van die storm wat om Harry se boek losgebars het nie afwyk van wyle koningin Elizabeth II se goue reël van “don’t complain, don’t explain” nie.

Kate en William het hul prettige en kompeterende kant gewys tydens ‘n besoek aan Wallis. (Foto: Jacob King/AFP)

Kate Middleton en Prins William, die prinses en prins van Wallis, het vandeesweek Wallis besoek om by verskeie welsyns- en gemeenskapsorganisasies aan te doen en ook om St. David’s Day, wat dié land se nasionale dag is, te vier.

Die egpaar het ook weer ʼn blik op hulle speelse en ietwat kompeterende kant gegee toe hulle tydens ʼn besoek aan die dorp Aberavon se plaaslike sport- en ontspanningsentrum besluit om mekaar in hul netjiese drag op trapfietse uit te daag.

Die prinses het stof in haar man se oë geskop, ondanks die feit dat sy in  ʼn romp en stewels geklee was. Sy is selfs met ʼn klein goue trofee beloon.

Die egpaar het vroeër ook Engeland se oorwinning oor Wallis in die Sesnasies-toets in Cardiff bygewoon. Prins William is tans beskermheer van die Walliese rugby-unie, terwyl prinses Kate beskermheer van Engeland se rugby-unie is,’n rol wat sy ʼn verlede jaar by prins Harry oorgeneem het.

Prins William het gedurende die egpaar se besoek aan Aberavon tergend gesê dat hy ‘n week lank oor Engeland se oorwinning getreur het, aldus die BBC.

Bronne: AFP, Page Six, Yahoo News, People!, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VaalDonkie ·

Ten minste het hulle nou nog iets om oor te kla in die media. Meghan is seker baie in haar noppies.

Barend ·

Hulle gedrag is soos om hulself in al vier voete te skiet.

Republikein in die Wes Kaap ·

Intussen sink gewone Britte teen ‘n stink spoed.

TruthDealer ·

Nou het hulle nog iets om oor te kla en kerm. Maybe one of them can write a book about this latest atrocity.

Katinka ·

Hule het heeltemaal aanbeweeg met hulle lewens, ek glo nie dit pla hulle nie.

Witbaard ·

Ek dink hulle wil hulle brood aan beide kante gebotter hê.

Kirst ·

Dis die beste nuus wat ek nog die jaar gelees het – hulle luukse woning in die VSA is vir $33,5 miljoen gelys en dis byna R60 miljoen. Die Rand was laas so sterk voor 1994!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.