Hollywood: Fluit-fluit, Britney se deuntjie is uit; skeisaak, trouklokke in ‘Bachelor’-drama

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Britney is “klaar met die musiekbedryf”

Britney Spears. (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse popster, Britney Spears, sê sy “sal nooit terugkeer na die musiekbedryf nie” nadat gerugte oor ʼn nuwe ateljeealbum verlede week versprei is.

Die popster het egter op Instagram gesê sy sal nooit weer musiek maak nie.

“Net sodat dit duidelik is, die meeste van die nuus is gemors. Hulle hou aan sê ek draai na lukrake mense om ʼn nuwe album te maak … ek sal nooit terugkeer na die musiekbedryf nie!”

Sekere nuusbronne het aangevoer kunstenaars soos Julia Michaels en Charlie XCX is geoormerk as moontlike medewerkers.

Britney het bygevoeg dat sy deesdae slegs musiek vir die pret maak en dat sy die afgelope twee jaar meer as 20 liedjies vir ander kunstenaars geskryf het.

“Ek is ʼn spookskrywer en, eerlikwaar, ek geniet dit só,” sê die sangeres, wat bekend is vir treffers soos “Baby One More Time” en “Oops!… I Did It Again”.

Britney se memoires, The Woman in Me, het verlede jaar op die rakke verskyn en was wêreldwyd ʼn kitstreffer.

Sy het destyds geskryf: “Om my musiekloopbaan vorentoe te stuur is nie tans my hooffokus nie. Dit is tyd vir my om nie iemand te wees wat ander mense wil hê nie; dit is tyd om myself te vind.”

Wie is SA ster Tyla?

Tyla. (Foto: Facebook)

Tyla, ʼn jong Suid-Afrikaanse popster, het skielik in 2023 wêreldwyd naam gemaak met haar treffersnit, “Water”.

In die VSA het dié verleidelike oorwurm van Tyla die eerste Suid-Afrikaanse solokunstenaar gemaak om die Billboard-treffersparade in 55 jaar te haal. Sy het ook die jaar afgesluit met ʼn Grammy-benoeming vir beste Afrika-musiekuitvoering van die jaar.

Wat weet ons nog van dié jong sangeres en liedjieskrywer?

Die 21-jarige Tyla se regte naam is Tyla Laura Seethal. Sy is gebore en getoë in Johannesburg en is van Indiese, Zoeloe, Mauritiër en Ierse herkoms.

Die internasionale sukses van “Water” het aan haar die vierde plek op die BBC se Sound of 2024-lys besorg. Dié lys voorspel watter kunstenaars in die komende 12 maande die musiekbedryf gaan domineer.

Die liedjie het ook onder meer in die topvyf-liedjies op treffersparades regoor die wêreld beland, en was ook die mees gestroomde Afrobeats-liedjie op Spotify vir 2023. Die musiekvideo is ook reeds meer as 95 miljoen keer gekyk.

Tyla het aan die BBC vertel sy het geweet sy het ʼn treffer beet die oomblik toe dit klaar geskryf en vervaardig is.

“Ek het myself gekry dat ek die liedjie oor en oor speel. Gewoonlik raak kunstenaars moeg vir hul eie liedjies, veral as hulle dit te veel kere luister, maar ek het nooit moeg geraak vir ‘Water’ nie.”

Oor dinge soos die Grammy-benoeming is sy “dankbaar en geseënd”.

“My doel was nog altyd om een van die wêreld se grootste popsterre te wees.”

‘Bachelor’-drama: Een paartjie skei, ander trou

Rachel Lindsay en Bryan Abasolo. (Foto: Facebook)

Rachel Lindsay, die eerste swart ‘Bachelorette’ op die Amerikaanse televisiewerklikheidsreeks, The Bachelorette, en haar man, Bryan Abasolo, het Dinsdag aangekondig dat hul paaie gaan skei.

Rachel en Bryan was net meer as vier jaar getroud.

Bryan voer onversoenbare verskille aan in die dokumente wat op 31 Desember by die Los Angeles-hooggeregshof ingedien is. Hy dagvaar ook vir Rachel vir onderhoud en wil ook hê die voormalige ‘Bachelorette’ moet sy regskostes dek.

“Ná meer as vier jaar se getroude lewe, het ek en Rachel die moeilike besluit geneem om ons paaie te laat skei en nuut te begin,” het hy in ʼn verklaring op sy Instagram-rekening gesê.

Bryan is ʼn chiropraktisyn en staan onder Bachelor Nation-aanhangers bekend as “Dr. Abs”.

“Soms beteken liefde vir jouself en jou lewensmaat om eerder te laat gaan.”

Rachel, ʼn skrywer en prokureur, is in 2017 as die eerste swart ‘Bachelorette’ aangewys nadat sy voorheen aan die 21ste seisoen van The Bachelor deelgeneem het.

Sy het aan die einde van haar seisoen as ‘Bachelorette’ vir Abasolo gekies en hulle is in Augustus 2019 getroud.

Die egpaar het nie kinders nie.

Intussen is die eerste The Golden Bachelor-paartjie, Gerry Turner en Theresa Nist, Donderdag in ʼn seremonie wat regstreeks op televisie uitgesaai is, in die eg verbind.

Gerry is die eerste The Golden Bachelor-deelnemer en is 72 jaar oud. Hy werk in die finansiële sektor.

Die paartjie het omtrent gekoer tydens die huwelikseremonie wat deur Susan Noles, nog ʼn deelnemer aan Turner se seisoen, gelei is.

“Ek belowe dat as jy my lewensmaat is, ek jou die gelukkigste vrou in die wêreld sal maak. Ek belowe om jou elke dag te kies as die een wat ek liefhet, en ek sal nooit jou hart as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek belowe om die ‘ek is lief vir jou’ elke dag uit te basuin, en dit saggies in die aand vir jou te fluister.”

Wat gebeur nog in Hollywood?

Drie groot bome in die internasionale rolprentbedryf het vandeesweek geval: Glynis Johns, aktrise van Mary Poppins en Oscar-wenner, is Donderdag in die ouderdom van 100 oorlede, terwyl die bekroonde Meksikaanse aktrise Ana Ofelia Murguía vroeër vandeesweek op 90 dood is.

Glynis Johns in 1964 in ‘Mary Poppins’. Sy het die rol van Mrs Banks vertolk. (Foto: The Walt Disney Company/AFP)

Verder is die Britse akteur, Tom Wilkinson, bekend vir rolprente soos The Full Monty, Shakespeare In Love en The Best Exotic Marigold Hotel, Saterdag in die ouderdom van 75 dood. Hy was glo saam met sy vrou en familie tuis toe hy skielik dood is.

Elvis Presley, die koning van rock ʼn roll, is eersdaags weer op die verhoog te sien. Danksy kunsmatige intelligensie (KI) word ʼn nuwe Elvis Presley-vertoning later vanjaar in Londen aangebied. Die vertoning, genaamd “Elvis Evolution”, behels ʼn lewensgrootte digitale Elvis wat op die verhoog optree.

Elvis Presley. (Foto: MGM/Collection Christophel/AFP)

ʼn Skielike digitale oplewing van Mickey Muis en sy vriendin, Minnie, is wêreldwyd aan die gang nadat die 1928-kortfliek, Steamboat Willie, se kopiereg op 1 Januarie vanjaar verstryk het. Dit beteken die ouer weergawes van die karakters kan nou op enige manier deur enigiemand in die VSA gebruik word om nuwe stories en kunswerke te skep.

Bykomende bronne: BBC, US News, NBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.