Hykie kry sy ‘ja’ ná hy 7 keer vra

Hykie en Gerridene (Foto: Soif de Vivre Photography)

Hykie Berg (41), wat Saterdag aan sy vriendin Gerridene de Vries (29) verloof geraak het, sê hy het haar sewe keer gevra om te trou voordat sy die afgelope naweek ingestem het.

Maroela Media het vroeër berig die Binnelanders-akteur het Sondag die nuus op sosiale media bekendgemaak.

Berg en De Vries, ʼn prokureur, is al tien maande lank in ʼn verhouding. Berg sê hy wou aanvanklik eers later vanjaar vir haar vra om met hom te trou, maar hy kon nie meer wag nie. “Ons gaan in Oktober Italië toe, en ek het eintlik gedink ek wil haar daar vra, maar ek wou nie langer wag nie,” het ʼn smoorverliefde Berg vanoggend aan Maroela Media gesê.

(Foto: Facebook)

Berg het De Vries Donderdag verras met ʼn langnaweek by die luukse Moditlo River Lodge in Limpopo nadat hy Maandag haar ouers gevra het vir hul seëning.

“Ek het vir haar gesê ons gaan Drakensberge toe, maar toe ons halfpad is toe sê ek vir haar ons gaan nie eintlik daarheen nie. Alles was reeds gereël en sy het niks verwag nie,” vertel hy.

Berg en De Vries het Saterdag op ʼn wildbesigtigingsrit gegaan waar hulle vier van die Groot Vyf gesien het. Hulle het toe op ʼn plek gestop waar ʼn tafel vir hulle gedek was. Berg het op sy knieë gegaan en vir De Vries gevra om met hom te trou. Hy vertel sy het dadelik begin huil en sy aanbod aanvaar.

Hykie Berg en sy verloofde, Gerridene de Vries, lyk dolgelukkig. (Foto: Facebook)

“Ons het geweet ons gaan trou, ons het net nie geweet wanneer nie. Ons het albei baie daaroor gebid, maar ek het al vroeg in ons verhouding geweet sy is die vrou vir my en dat ek met haar wou trou. Dit kom al ʼn hele rukkie,” sê Berg.

Berg sê skertsend hy eintlik al sewe keer vir De Vries gevra om te trou, maar dat hy toe nog nie ʼn ring gehad het of haar ouers gevra het nie.

Dié paartjie is nou opgewonde om ʼn troue te reël en hul lewens met mekaar te deel.

“Ons is opgewonde om saam te reis, om die Koningryk te bou, om saam vir God lief te wees, en om ons lewens saam te leef. Ons is ook baie opgewonde om kinders saam te hê, en dit kan sommer vinnig gebeur, want ek is ook darem al 41!” sê Berg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erika ·

Baie Geluk julle twee! Mag jul lewe saam ‘n fontein van Liefde wees..
Die gom wat mense aanmekaar hou is die Liefde om ons Vader saam te dien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.