Oscar-modes: Hier is Maroela Media se gunstelinge

Die Oscars-geleentheid sluit Hollywood se toekenningseisoen af. (Foto: Mark Ralston/AFP)

Hollywood se toekenningseisoen het Sondagaand op ʼn hoogtepunt geëindig tydens die 96ste Oscar-prysaand in Los Angeles in die VSA.

Hoewel Christopher Nolan se Oppenheimer sewe goue beeldjies verower het, het ander bekendes ook toekennings vir hul puik modekeuses op die rooi tapyt verdien.

Hier is Maroela Media se stylwenners van die aand:

Brittany Snow

Brittany Snow. (Foto: Mike Coppola/AFP)

Die Pitch Perfect-aktrise het uitgestaan in ʼn heldergeel rok van die handelsmerk Mônot.

America Ferrera

America Ferrera. (Foto: David Swanson/AFP)

Dié Barbie het Sondagaand die kollig gesteel met haar blink, pasgemaakte pienk Atélier Versace- aandrok. Die kleur was ook ʼn lekker verrassing, siende dat die Barbie-aktrise graag swart nommertjies eerder as pienk deur die loop van die toekenningseisoen gekies het.

Maitreyi Ramakrishnan

Maitreyi Ramakrishnan. (Foto: Marleen Moise/AFP)

Die Never Have I Ever-aktrise het uiters stylvol in ʼn klassieke wit-swart skepping van Zuhair Murad gelyk.

Anya Taylor-Joy

Anya Taylor-Joy. (Foto: Mike Coppola/AFP)

Anya Taylor-Joy het betower in ʼn Christian Dior Haute Couture-rok wat glo deur Botticelli se Geboorte van Venus geïnspireer is.

Carey Mulligan

Carey Mulligan. (Foto: Mike Coppola/AFP)

Die Oscar-benoemde aktrise het soos ʼn klassieke Hollywood-ster gelyk in ʼn pasgemaakte Balenciaga-rok met ʼn meermin snit en swart handskoene.

Dié manne staan nie terug nie

Taylor Zakhar Perez het aandag getrek in ʼn blou aandpak van Prada.

Die Barbie-akteur Simu Liu het ʼn swart wyepyp Fendi-tuxedo gedra.

John Krasinkski, bekend vir sy rol as Jim in The Office, het by sy vrou, Emily Blunt, se wit skepping aangesluit met sy wit pak.

Ons kry net nie genoeg van Ken nie. Ryan Gosling, wat lewe aan Barbie se kêrel, Ken, in die Barbie-rolprent gegee het, het treffend in ʼn swart Gucci-pak met blink detail gelyk.

Dié uitrustings het ons ook twee keer laat kyk:

Hoewel haar haarstyl en juwele stylvol was, het die oordadige pienk pof moue van Melissa McCarthy se skepping die aktrise se kleiner postuur oorrompel.

Ariana Grande se wolkagtige babapienk Giambattista Valli-rok het herinner aan afgeblaasde ballonne.

Margot Robbie, wat sedert die bekendstelling van die Barbie-rolprent geskitter het in pienk skeppings wat deur die bekende pop geïnspireer is, het ietwat teleurgestel toe sy ʼn eenvoudige swart Versace-rok vir die groot aand gekies het.

Bykomende bronne: CNN News, Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.