Video: ‘Nóú gaan ons braai,’ sê Demi-Leigh se Tim in Afrikaans

Tim en Demi-Leigh Tebow. (Foto: Facebook/@Demi Leigh Tebow)

Sy woon nou dalk permanent in die VSA, maar dit beteken nie dat die skoonheidskoningin en model, Demi-Leigh Tebow (voorheen Nel-Peters) steeds af en toe ʼn eg Suid-Afrikaanse braai geniet nie.

Dié voormalige Mej. SA (2017) én Mej. Heelal (2018) het onlangs ʼn video van haar en haar Amerikaanse sportster man, Tim Tebow, op sosiale media gedeel waar hulle braaivleis, mieliepap, braaibroodjies en malvapoeding by hul spoggerige huis in Jacksonville, Florida, geniet.

Die glanspaartjie speel tans gashere vir Demi-Leigh se ma, Anne-Marie Steenkamp, en stiefpa, Johan Steenkamp, wat in 2019 laas by haar in die VSA gekuier het.

“Nou gaan ons braai,” het Tim, ʼn voormalige Amerikaanse bofbalspeler, in dié video gesê terwyl hy voor die kole staan.

“Ek hou daarvan om ons Suid-Afrikaanse tradisies met my vriende en familie in die VSA te deel. Ons het behoorlik gebraai, Mamma en Pappa het vir almal gekook en ons het die lekkerste tyd gehad (al was Mamma se mieliepap bietjie twyfelagtig). Die braaibroodjies was beslis die wenner,” het Demi-Leigh onderaan die video geskryf.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Demi-Leigh Tebow (@demitebow)

Demi-Leigh en haar ouers by ‘n yshokkiewedstryd in Jacksonville, Florida. Foto: Instagram/@Demi-Leigh Tebow)

Die voormalige skoonheidskoningin het ook onlangs foto’s van haar ouers se eerste uitstappie na ʼn yshokkiewedstryd gedeel.

Maroela Media het vroeër berig dat Demi-Leigh en Tim ontmoet het terwyl sy die Mej. Heelal-kroon gedra het. Hulle het op 9 Januarie 2019 verloof geraak en is in Januarie 2020 in Suid-Afrika getroud.

Deesdae spits sy haar toe op model- en welsynswerk, sowel as motiveringspraatjies deur haar Unbreakable-inisiatief, wat sy gedurende haar tyd as Mej. SA begin het.

Sy en haar man het ook ʼn suksesvolle juweliersreeks genaamd 153 Jewelry, wat verwys na die Bybelvers Johannes 15:13 wat lui: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.