Warrelwind-verlowing vir gewilde SA-akteurspaar

Bennie Fourie en Mila Guy is verloof. (Foto: Verskaf)

In egte Bennie Fourie-styl, het dié komediant, akteur en skrywer gesorg dat die dag waarop hy uiteindelik die groot vraag sou vra, ʼn avontuurlustige, onvergeetlike dag sou wees.

Fourie en Mila Guy, aktrise bekend vir rolle soos die van Zee in Binnelanders en Malanie in Hotel, het Dinsdagmiddag ná ʼn warrelwind-dag in die Kaap by die Plaisir de Merle-wynlandgoed in Stellenbosch verloof geraak.

Die akteurspaar het Dinsdagaand die nuus op sosiale media gedeel. Hulle het in Mei vanjaar hulle verhouding bekend gemaak nadat hulle byna ses jaar lank eers net vriende, bure en kollegas was.

Guy en Fourie, bekend vir reekse soos G.I.L, Fynskrif en die kykNET-leefstylprogram Die Broer Toer, vertel aan Maroela Media hulle avontuur het Dinsdagoggend reeds om 04:30 afgeskop nadat Fourie se oudste broer, Reynold, en sy vrou, Vicki, hulle wakker gesing het.

“Hulle het vir ons ʼn ‘Amazing Reis’ deur die Kaap opgestel en hulle het soveel moeite gedoen. Ons moes leidrade, wat hulle vir ons uitgedink het, volg om van die een aktiwiteit na die volgende te kon beweeg,” vertel die borrelende paartjie.

Fourie is self verras deur wat die aktiwiteite behels het, soos om ʼn piekniek te hou bo-op Leeukop, Houtbaai te verken, in die see te swem en te zipline in Stellenbosch. Hy het egter presies geweet waar die dag sou eindig – op Plaisir de Merle waar hy op een knie voor Guy sou neersak.

Mila en Bennie het by die Plaisir de Merle-wynlandgoed in Stellenbosch verloof geraak. (Foto: Verskaf)

Om seker te maak die groot vraag bly ʼn enorme verrassing, het hy ʼn paar van sy vriende in die vermaakbedryf ingespan om saam te speel deur te maak of hulle ʼn advertensie vervaardig waarvoor Guy twee weke tevore ʼn oudisie afgelê het.

Guy het nie die rol gekry nie, maar wat sy nie geweet het nie, is dat die oudisie en die advertensie alles deur Fourie beplan is.

“Terwyl ons visgevang het, het my agent gebel en gevra of ek in Stellenbosch is, want die aktrise wat wel die rol gekry het vir die advertensie is siek en hulle het my nodig. Dit was vir my nogal toevallig dat ek en Bennie toe so naby was aan waar hulle die advertensie geskiet het. Ek wou ook aanvanklik nie vir Reynold en Vicki teleurstel deur die ‘Amazing Reis’ kort te knip om die advertensie te skiet nie,” vertel Guy.

Fourie het haar egter “oortuig” om die advertensie te gaan skiet en hulle het soontoe gery, waarna hy gesê het hy na die volgende plek op Reynold en Vicki se lysie sal gaan en daar vir Guy wag.

Mila en Bennie is verloof. (Foto: Verskaf)

Vir die kamstige advertensie moes sy in ʼn helikopter klim, en ná ʼn paar skote het die helikopter met ʼn niksvermoedende Guy weggevlieg na Plaisir de Merle waar Fourie haar ingewag het.

“Toe ek hom daar onder sien staan het ek begin onraad vermoed, want ek kon nie verstaan hoekom hy dan nou skielik daar was as hy veronderstel was om elders te wees op ʼn plek wat sy broer-hulle vir ons beplan het nie,” lag sy.

Daar het Fourie, voor ʼn houthuisie wat hy self gebou en met die hulp van Guy se boesemvriendin, die aktrise Ansu Visser, en haar verloofde, Wilhelm van der Sluys, staangemaak het, vir Guy gevra om te trou.

“Dit was regtig soos iets uit ʼn fliek,” koer Guy.

Guy en Fourie het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer ná ʼn besoek aan haar ouers in Nieu-Seeland. Fourie het tydens dié besoek ouers gevra.

“Ek was op ʼn Zoom-oproep en toe ek uitkom kon ek aanvoel die atmosfeer is anders. Almal was bewoë en my ouers het my drukkies gegee, maar ek was in die duister oor wat gebeur het,” vertel Guy laggend oor die oomblik toe Fourie ouers gevra het.

Guy se suster, Maro, en haar kêrel, Tyler, het die vakansie terdeë saam met hulle ouers geniet. Dit was die eerste keer wat Guy weer haar ouers kon sien ná die aanvang van die Covid-19-pandemie.

Die ring wat Bennie vir Mila laat maak het. (Foto: Verskaf)

“Ons het so lekker gekuier en ek dink dit stel my ouers gerus om te weet albei hulle dogters het goeie kêrels – of dan nou in my geval, verloofde. Dit was ʼn baie spesiale tyd en dit was heerlik om vir Bennie deel van my familie te hê.”

Sy verklap dat sy reeds jare gelede haar hart verloor het op ʼn spesifieke ring wat sy op Pinterest gesien het, en dat Fourie dié ring byna foutloos nagemaak het.

“Ek het nog nooit na ander ringe gekyk nie. Ek het dit vir Bennie gewys en hy het dit so perfek laat maak, beter as wat ek ooit kon verwag. Dit pas my en my styl en ek is mal daaroor.”

Die paartjie beplan om volgende jaar in April of Mei voor die kansel te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Estelle ·

So mooi Liefdes Storie….Laat mens weer glo in die liefde.

Baie geluk julle twee, vertrou julle gaan nog baie jare saam wees!

‘n Regte Liefdes Sprokie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.