Woelwater op pad vir gewilde BSV-paartjie

Willem en Sanel Pool het pas aangekondig dat hul gesin binnekort gaan groei. (Foto: Instagram/@Sanel Pool)

Dit lyk of daar vanjaar dalk iets in Boer soek ʼn vrou (BSV)-deelnemers se plaaswater is.

Skaars ʼn week nadat seisoen 14 se Tyson en Alri Zunckel die nuus gedeel het dat hulle gesin binnekort gaan uitbrei, het Willem en Sanel Pool van seisoen 12 ook aangekondig dat húlle eerste woelwater in November vanjaar sy of haar opwagting gaan maak.

Sanel en Willem was een van hul BSV-seisoen se gewildste paartjies en is in Mei 2021 getroud.

“Ons het definitief beplan om ons gesin uit te brei, maar ons wou nie ʼn babatjie gehad het wat té laat in die jaar gebore is nie; ons is self November- en Desember-babas en dit was altyd vir my swaar. Eindelik het ons gebid dat die Here se wil geskied en duidelik wou Hy hê dit moet ʼn November-baba wees,” vertel Sanel aan Maroela Media.

Sy het vir Willem met die nuus probeer verras deur die woorde “Jy word ʼn papa” op ʼn letterbordjie uit te spel, maar Willem beweer dat hy reeds ʼn voorgevoel gehad het dat daar ʼn pienkvoet op pad is.

“Ek was vroeër die dag Clicks toe en hy het gedink dat ek ʼn swangerskapstoets gekoop het, terwyl ek eintlik net medisyne wou gehad het. Ek sal hom seker maar moet glo, want hy hou steeds by sy storie,” vertel sy laggend.

Willem en Sanel Pool op hulle troudag in 2021. (Foto: Instagram/Sanel Pool/Kilig Photo)

Die paartjie het geen voorkeur vir ʼn seuntjie of dogtertjie nie, maar bieg dat hulle baie nuuskierig is om die geslag uit te vind en een van die gastekamers van hul plaashuis buite Clanwilliam in ʼn babakamer te omskep.

“Baie van ons vriende het reeds kinders en daar is klaar genoeg seuntjies, so ʼn dogtertjie sal lekker balans bring. Hy of sy gaan, ongeag, ʼn klein woelwater wees met dié ma en pa se gene,” terg sy.

Baba-Pool is ook die eerste kleinkind aan Sanel se kant van die familie.

“Ek is die oudste kind en my ouers en familie is veral opgewonde en saam met ons bly. Baie familie en vriende het ook al hulp en advies aangebied en dis lekker om te sien hoe baie mense saam met ons opgewonde is.”

Sanel vertel dat Willem spot en sê dit was nou “Boer soek ʼn baba” vir dié paartjie, wat op 15 Mei hul tweede huweliksherdenking vier.

“Ons weet almal was nie so gelukkig op die program soos wat ons was nie. Dit wys net dat dit destyds die Here se plan was vir my kamermaat om my in te skryf. Ons sal altyd dankbaar wees vir die rol wat Boer soek ʼn vrou in ons lewe gespeel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonny ·

Baie geluk Willem & Sanel.
Boer soek n vrou
Verskaf baie vreugde, liefde en sèèn!!!

Vonny ·

Jesus sèen vir jul 2.

Was jou boer soek n vrou bring vreugde, liefde en geluk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.