Vuurwapens in rolprente: Dis wat gebeur op stel

Die skietvoorval waarby die akteur Alec Baldwin betrokke was, het op die stel van die rolprent “Rust” gebeur. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Deur Jacques Olivier

Alec Baldwin se tragiese skietongeluk op die stel van sy nuwe produksie, Rust, het onlangs weer die kollig op die gebruik van vuurwapens in rolprente gewerp. Talle vrae word nou gevra oor hoe veilig sulke wapens inderwaarheid vir lede van die filmspan is.

Die eerste gebruik van ʼn vuurwapen op die silwerdoek was waarskynlik toe Annie Oakley, Amerikaanse vroueskut, haar skietvernuf in die mid-1890’s in Edison Studios se 21 sekonde lange wit-en-swart-film, Annie Oakley, vertoon het. Oor die afgelope 13 dekades is vuurwapens in al wat ʼn Western, misdaad- en oorlogfliek, asook talle ander rolprentgenres gebruik, en merendeels sonder enige noodlottige voorvalle vir filmspanlede.

Die belangrikste rede vir die oorwegend veilige gebruik van vuurwapens op filmstelle, al vir meer as ʼn eeu lank, is dat hierdie aspek van die rolprentproduksie die verantwoordelikheid van ʼn toegewyde filmwapendeskundige (“movie armourer”) is. Hierdie is ʼn opgeleide spesialis in die vakgebied wat nougeset by die navolging van gevestigde protokols hou om veilige wapengebruik op ʼn rolprentstel te verseker.

Die soort wapens wat in flieks gebruik word, kan in twee kategorieë verdeel word, naamlik werkende wapens (“practical movie guns”) en nie-werkende wapens (“movie prop guns”). In die Suid-Afrikaanse konteks is ʼn werkende wapen ʼn regte wapen wat dienooreenkomstig vir teatrale gebruik by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gelisensieer is en in staat is om loskruitpatrone (“blanks”) af te vuur. ʼn Geweersmid wysig gewoonlik die soort wapen om die gebruik van lewendige ammunisie te voorkom. Nie-werkende wapens is gewoonlik egte, permanent gedeaktiveerde vuurwapens wat glad nie kan skiet nie, of rubber replikas wat soos ʼn egte wapen lyk, maar geen meganiese funksionaliteit het nie.

Op ʼn rolprentstel is die verantwoordelikheid van ʼn filmwapendeskundige om toe te sien dat niemand anders as hy/sy, en dan natuurlik die akteur wat die vuurwapen in ʼn toneel gebruik, die wapen hanteer nie. Na die oorhandiging van ʼn gelaaide vuurwapen aan ʼn akteur roep die filmwapendeskundige “weapons hot!”. Die toneel waartydens skote deur die akteur gevuur word, word dan verfilm. Direk nadat die regisseur roep “cut!” word die wapen weer by die akteur weggeneem en deur die filmwapendeskundige veilig gemaak, waarna daar “weapons safe!” geroep word.

Die filmwapendeskundige is daarvoor verantwoordelik om seker te maak dat alle vuurwapens op stel in werkende toestand is, en is ook die enigste persoon wat daardie wapens deurlopend mag hanteer en met die korrekte ammunisie ter voorbereiding van ʼn toneel laai. Op sy beurt hang die korrekte ammunisie af van wat ʼn toneel vereis, want dit kan óf gedeaktiveerde patrone (“dummy rounds”) óf loskruitpatrone (“blanks”) wees.

Die wapen wat op “Rust” se stel gebruik is, was ‘n Pietta .45 Long Colt rewolwer. Dit is ‘n hedendaagse replika van ‘n 1873 Colt Peacemaker. (Foto: Verskaf)

Kom ons begin by gedeaktiveerde patrone (“dummy rounds”). ʼn Gedeaktiveerde patroon bestaan slegs uit ʼn koeël (“bullet”) en ʼn patroondop (“cartridge case”). Daar is geen lewendige slagdoppie (“primer”) of dryfmiddel (kruit) in so ʼn patroon teenwoordig nie, en dus is dit totaal skadeloos en nie in staat om enigsins geskiet te word nie. Soms is dit nodig dat ʼn karakter ʼn vuurwapen laai of vertoon met wat soos lewendige ammunisie moet lyk. In so ʼn geval word die wapen nie afgevuur nie en die kamera fokus op die wapen om by die kyker die indruk te skep dat dit met egte ammunisie gelaai is. ʼn Voorbeeld hiervan sou wees wanneer ʼn akteur ʼn magasyn in ʼn wapen laai en die patrone in die magasyn vir die kamera sigbaar is, of dalk ʼn rewolwer rig en die kamera die rewolwer van voor af te siene kry. Onthou dat ʼn rewolwer se ammunisie in ʼn silinder geberg word en dat daardie silinder oop is. Sodoende kan die kamera met ʼn vooraansigskoot wys dat so ʼn wapen met “regte” ammunisie gelaai is. ʼn Ander voorbeeld kan ʼn masjiengeweer wees met ʼn belt gedeaktiveerde patrone wat by die gehoor die nodige indruk van realisme skep.

Die ammunisie wat wél lawaai en ontploffings in ʼn fliek veroorsaak, is loskruitpatrone. Dit is ammunisie wat uit ʼn patroondop bestaan, tesame met ʼn lewendige slagdoppie en ook ʼn lading dryfmiddel. In hierdie ammunisie is daar geen koeël teenwoordig nie. ʼn Loskruitpatroon verskaf dus slegs lig en klank tydens die afvuur daarvan, maar daar is wel erge druk wat opbou in die loop van ʼn vuurwapen wat so ʼn rondte vuur. Hierdie lugdruk kan geweldige skade veroorsaak as die loop vas teen ʼn ander objek gedruk word.

Wanneer ek op ʼn filmstel akteurs oplei wat met wapens moet skiet, doen ek gewoonlik die appeldemonstrasie. Wanneer ʼn vuurwapen, gelaai met ʼn loskruitpatroon, teen ʼn appel gedruk word en die skoot afgevuur word, disintegreer die appel totaal. Meestal kyk die akteur jou na die tyd grootoog aan en besef dan dat die wapen glad nie op iemand wat naby is, gerig mag word nie.

ʼn Loskruitpatroon raak werklik lewensgevaarlik wanneer daar ʼn objek soos ʼn klippie of ʼn ander harde stukkie materiaal in ʼn wapen se loop vasgevang is, want die druk wat ʼn loskruitpatroon binne ʼn loop veroorsaak, sal so ʼn objek met soortgelyke geweld uitskiet as wat die geval met ʼn koeël in lewendige ammunisie sou wees.

So hoe gebeur skietongelukke op filmstelle?

Jacques Olivier is ‘n plaaslike filmwapendeskundige. (Foto: Verskaf)

ʼn Hartseer gebeurtenis het in 1984 plaasgevind toe Jon-Erik Hexum as ʼn grap ʼn rewolwer met ʼn loskruitpatroon teen sy kop gedruk en die sneller getrek het. Die filmwapendeskundige het duidelik nie vir hom die appeltoertjie gewys nie en die akteur was onbewus van hoe gevaarlik ʼn wapen met ʼn loskruitpatroon wat teen sy kop gedruk word sou wees. ʼn Fraktuur in sy skedel met erge breinskade was die tragiese gevolg en ses dae later is Hexum breindood verklaar.

ʼn Ander bekende en eintlik nog meer aaklige voorval was Brandon Lee se ontydige afsterwe tydens die verfilming van The Crow in 1994. Die toneel waarin die ongeluk plaasgevind het, is vooraf ʼn paar keer met ʼn rewolwer wat met gedeaktiveerde patrone gelaai was, ingeoefen. Een van hierdie patrone se koeëls het losgewikkel en in die wapen se loop vasgesteek, en omdat daar nie ʼn filmwapendeskundige op stel was nie, het ander personeel daarna die rewolwer met loskruitpatrone gelaai en nie opgelet dat daar ʼn koeël in die loop vassit nie. Toe die wapen dus deur die booswig karakter na Brandon Lee afgevuur is, was die resultaat dat Lee inderwaarheid met ʼn egte koeël wat teen ʼn hoë snelheid uit die loop gevuur is doodgeskiet is. Dit was ʼn totaal voorkombare ongeluk wat glad nie sou gebeur het indien die regte personeel aan diens was en die nodige protokols gevolg is nie.

Wat Alec Baldwin se onlangse ongeluk op Rust betref, is die inligting besig om stuksgewys in die publieke domein te kom, en is dit tans moeilik om ʼn finale oordeel oor die gebeure te vel. Wat duidelik blyk uit bevestigde inligting is dat die 24-jarige filmwapendeskundige te onervare vir haar posisie in die produksie was en dat daar ernstige afwykings van standaardprotokol plaasgevind het.

Niemand benewens die filmwapendeskundige is veronderstel om enige wapen te hanteer voordat so ʼn wapen deur die filmwapendeskundige aan ʼn akteur oorhandig word nie. Die feit dat die assistentregisseur die wapen opgetel en “cold weapon” (filmterminologie vir ʼn ongelaaide wapen) uitgeroep het voordat hy dit aan Baldwin oorhandig het, was ʼn fatale flater, want dit was nie sy plek om dit te doen nie. Waarom ʼn gelaaide wapen enigsins nie onder die direkte toesig van die filmwapendeskundige was nie, is ook tans onduidelik. ʼn Ander tergende vraag is dan ook watter soort ammunisie in die wapen gelaai was, want lewendige ammunisie het absoluut geen plek op ʼn filmstel nie. Bestaande inligting wil daarop dui dat Rust se produksie ʼn slordige, sakpas affêre met kortpaaie en allerlei ander afskepery was en dat talle spanlede reeds voor die ongeluk oor verskeie veiligheidsleemtes gekla het. Mettertyd sal ʼn volledige verslag oor die gebeure op die filmstel beskikbaar wees en kan daar besin word oor wat alles hier skeefgeloop het.

Ter afsluiting is dit belangrik om te onthou dat vuurwapens al vir ʼn baie lang tyd op filmstelle sonder voorval gebruik is wanneer ʼn filmwapendeskundige teenwoordig is en genoeg tyd deur die regisseur gegun word om die werk ordentlik te doen. Wanneer vuurwapens wel sonder die teenwoordigheid van ʼn ervare filmwapendeskundige op ʼn rolprentstel te voorskyn kom, is die beste koers van aksie vir alle filmspanlede om so gou moontlik hulle tasse te pak en huis toe te gaan, omdat sake dan uiters gevaarlik kan raak.

  • Jacques Olivier is ʼn filmwapendeskundige vir die filmwapenmaatskappy Hire Arms, wat vuurwapens aan die filmindustrie lewer en ook gespesialiseerde vuurwapenopleiding aan akteurs verskaf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Flieks, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AW ·

Dit gebeur,

Dit het gebeur,

Dit sal weer gebeur !!

Want die mens is Nalatig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.