Foto’s: Mej. Heelal-kostuum bring hulde aan Afrika

Ndavi Nokeri sal in Januarie die land verteenwoordig by die Mej. Heelal-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Mej. Suid-Afrika, Ndavi Nokeri, gaan nie net haar eie land nie, maar ook die hele Afrika-vasteland verteenwoordig wanneer sy op 14 Januarie aan die 71ste Mej. Heelal-kompetisie in New Orleans, Louisiana, in die VSA deelneem.

Nokeri se nasionale uitrusting vir dié gesogte skoonheidskompetisie is vandag tydens ʼn spoggeleentheid by die Maslow-hotel in Sandton, Johannesburg onthul en spog met helder kleure, ʼn treffende blomme-kopstuk en twee vlerke waarop die Suid-Afrikaanse, sowel as die 53 ander Afrikalande se vlae pronk.

Zozibini Tunzi, voormalige Mej. SA- en Mej. Heelal-kroondraer, het as gasvrou by die onthulling van Nokeri se uitrustings opgetree.

Volgens Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die Mej. SA-organisasie, is die nasionale uitrusting van uiterse belang wanneer dit kom by die tentoonstelling van die deelnemer se land en herkoms tydens die Mej. Heelal-kompetisie.

“Ons doen altyd baie moeite met dié uitrusting, want dit is waar ons trots om Suid-Afrikaans te wees werklik op ‘n internasionale verhoog vertoon kan word. Dit is boonop ʼn gunsteling onder Mej. Heelal-aanhangers.”

Hy voeg by dat dit vir Nokeri belangrik was om ook haar Tsonga-herkoms in dié uitrusting te weerspieël.

“Dít is die kern van wie sy is en word veral in die uitrusting se materiaal pragtig verteenwoordig.”

Zozibini Tunzi en Ndavi Nokeri. (Foto: Frennie Shivambu)

Die binnekostuum is gemaak deur Sello Medupe van Scalo Designs, wat verlede jaar ook Thato Mosehle se nasionale kostuum vir die Mej. Supranasionaal-kompetisieontwerp het, terwyl die vlerke deur Henk Henderson van Henderson Worx vervaardig is.

Oor die keuse om ander Afrikalande in Nokeri se kostuum te voeg sê Wessels dat hulle haar deelname en rol in die groter Afrika-gemeenskap wou uitbeeld.

“Met die vlerke wou ons ‘vlug’ ten toon stel en iets wat opstyg of herrys verteenwoordig omdat baie Afrika-vroue tans besig is om op te staan en hulself te laat geld.”

Nokeri het by ook een van haar aandrokke vir dié kompetisie vertoon. Dié goue skepping is deur Juan Visser van Juan William Aria ontwerp en verteenwoordig Suid-Afrika se minerale hulpbronne.

Visser het ook Nokeri se twee ander aandrokke vir die Mej. Heelal-kompetisie ontwerp.

“Elke detail van haar rokke is noukeurig beplan en gekies. Elke rok hetsewe kralewerkers vereis en 160 uur geneem om te voltooi,” sê die ontwerper.

Ndavi Nokeri in een van haar skeppings vir die Mej. Heelal-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Volgens Nokeri oortref haar skouspelagtige skeppings alle verwagtings.

“Ek is verheug dat my Tsonga-kultuur in die nasionale kostuum verweef is. Ons het terselfdertyd die feit dat ek Suid-Afrikaans en ʼn Afrikaan is bygewerk.

“Dit is so mooi, want ek het geleer dat ons as Afrikane danksy ons gedeelde waardes meer ooreenkomste as verskille het. Dit is vir my ‘n trotse oomblik om alle Afrikane gesien, verstaan ​​en verteenwoordig te laat voel.”

Twee Mej. SA-deelnemers het in die afgelope vyf jaar die Mej. Heelal-kroon gedra: Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019, terwyl Mej. SA 2018, Tamaryn Green, en Mej. SA 2021, Lalela Mswane, albei as naaswenners geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anje ·

Ek dink die eerste rok is heel slim. Die bruin rok is pragtig!

Gert ·

Nou ja Ma het gesê as jy niks goeds kan sê nie bly stil. So ja ek bly maar stil lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.