Aitsa’s vereer liedjietowenaar Jannie du Toit

Jannie du Toit het heerlik op Maroela Media se stoep op sy kitaar getokkel. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Die bekende en geliefde Afrikaanse musieklegende, Jannie du Toit, sal tydens vanjaar se Aitsa Musiektoekennings vereer word vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek.

Die befaamde operasangeres, Mimi Coertse (90), is verlede jaar met dié Aitsa-musiektoekenning bekroon. Die Aitsa Trust ken dit jaarliks toe aan ʼn kunstenaar wat oor ʼn lang tydperk baanbrekerswerk vir die ontwikkeling van die Afrikaanse musiekbedryf gedoen het.

Jannie sal op 19 September 2023 by die Choose Life Ouditorium in Moreletapark dié eerbewys ontvang.

“Wat ʼn eer en wonderlike aanmoediging vir die pad vorentoe,” het die “Liedjie vir jou”-sanger oor sy toekenning gesê.

Sy merkwaardige loopbaan strek oor meer as vyf dekades en veral dié lied speel ʼn leidende rol in wat bekend sou raak as die Musiek-en-Liriek-beweging van die laat sewentigs.

Deel van dié beweging was liedjieaande by Jannie se huis saam met bekende vriende soos Koos Du Plessis, Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen en Lucas Maree.

Die Musiek-en-Liriek beweging sou die nuwe era van oorspronklike Afrikaanse lirieke en melodieë inlui, ná afloop van ʼn era waarin vertaalde lirieke uit Europese en ander treffers die populêre Afrikaanse musiekbedryf oorheers het.

Jannie du Toit in 1982. (Foto: Verskaf)

Hoewel hy ʼn regsgraad aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) behaal het, het hy die regsprofessie in 1981 verlaat toe prof. Chris Lamprecht hom as kultuurbeampte by die Universiteit van Pretoria aangestel het.

In 1984 skep hy saam met die Tuks84-studentegroep die Loeloeraai-musiekblyspel wat gegrond was op die eerste Afrikaanse wetenskapsfiksieverhaal wat CJ Langenhoven vanjaar presies 100 jaar gelede geskryf het.

Hy werk ook onder andere saam met die Afrikaanse “teaterdiva”, prof. Anna Neethling-Pohl, en is later ook by Truk (die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) as organiseerder van ligte musiek aangestel, waar hy jazz- en kabaretprogramme bekendgestel het en verantwoordelik was vir “Kerslig, vers en melodie”.

Sedert 1988 word hy beter bekend as kabaretsanger, veral deur sy optredes saam met Christa Steyn, begaafde musikant en pianis, in Nederlandstalige en Afrikaanse kabarette.

Daar het hy ook saamgewerk met vooraanstaandes in hierdie veld, waaronder Ilse van Hemert, Stephan Bouwer en Laurika Rauch.

Die verspreiding van sy eie CD’s het gelei tot die ontstaan van JNS Musiek, ʼn onderneming wat die belange van minder kommersiële, plaaslike musiek bevorder het en ongeveer 150 plaaslike albums van onder meer Coenie de Villiers, Lucas Maree, Amanda Strydom, Mimi Coertse, Werner Nel, die Libertaskoor en Surrendran Reddy vrygestel en versprei het.

In 2021 het Jannie met die produksie, beSTEMmings, sy roemryke loopbaan van vyftig jaar in die Afrikaanse musiekbedryf gevier.

Jannie du Toit en Christa Steyn (voor) saam met Coenie de Villiers en Lucas Maree (agter) in Pietersburg, 1995. (Foto: Verskaf)

Sy jongste produksie, Oppiekitaar, is onlangs in samewerking met Pretoria FM in ʼn volgepakte Atterbury Teater in Pretoria bekendgestel.

Volgens Willie Spies, voorsitter van die Aitsa Trust, het Jannie die suksesresep vir ligte Afrikaanse musiek oor baie jare herskryf, en ook bewys dat as jy oor die talent beskik en passievol is oor musiek, jy vir die res van jou lewe mense regoor die wêreld met uitstaande musiek, wat die oor en hart raak, kan vermaak.

Jannie sal sy jaar op ʼn hoë noot afsluit met verskeie merkwaardige vertonings.

Op 24 September sal hy saam met die FAK Jeug Simfonieorkes by die Voortrekkermonument se Heldesaal optree vir ʼn baie spesiale Erfenisdagkonsert, getiteld Die Musiek van Jannie en Christa.

Sy nuwe splinternuwe produksie, Margaretastraat, vorm deel van die propvol Momentum Beleggings Aardklop-kunstefees terwyl sy verhoogproduksie, Die maan deur ʼn gaatjie in die nag, by die Toyota US Woordfees hulde aan sy jarelange vriendin, Marie Tredoux, se werk sal bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.